Onluste se impak op ondernemings, ekonomie; Wêreldbank waarsku SA

‘n Vrou glimlag terwyl sy op 12 Julie weghardloop van ‘n polisielid wat plunderaars in Katlehong probeer verjaag. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Gerhard van Onselen, ʼn ontleder verbonde aan Sakeliga, is terug in vandeesweek se 3 Minute, 3 Sake en kyk hoe die onluste die plaaslike ekonomie en sakeondernemings sal raak. Hy bespreek oor die Wêreldbank se waarskuwing aan Suid-Afrika te midde van die onrus.

Sakeliga meen hierdie week se onrus en onluste put krag uit die jarelange onderdrukking van die ekonomie. Dié organisasie meen dat ʼn kragtige reaksie deur ondernemings en gemeenskapstrukture nodig is om wet en orde te herstel. Dit gebeur reeds op plekke.

Die onrus het verskeie bydraende faktore. Dit is nie bloot ʼn politieke verskynsel nie. Dit is aangewakker deur die tronkstraf van oudpres. Jacob Zuma, maar is moontlik gemaak deur die opbou van verskeie maatskaplike, politieke en ekonomiese kragte.

Veral gegewe die uitgerekte verswakking van die ekonomie.

Prof. Jannie Rossouw, hoof van die skool van ekonomie en sakewetenskappe aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), wys daarop dat die betogings en onluste die impak van die vlak-4 inperkings wat ook nou weer verleng is, sal vererger.

Sakeliga het vantevore gewys op die kruitvat vir onrus wat die inperkings inhou. Sover word winkels geplunder, vragmotors staan en personeel kan nie by hulle werk uitkom nie.

Rossouw meen egter dat dit goeie nuus is dat restaurante kan oopmaak vir aansitetes, maar dat die drankbedryf waarskynlik ʼn permanente knou gekry het.

Hoeveel die besluite Suid-Afrika sal baat, sal ons eers in die toekoms kan sien.

Weer eens kan Suid-Afrikaners die gesentraliseerde metode van risikobestuur, wat die regering handhaaf, in twyfel trek. Dit is nodig dat mense hul eie risiko’s en mitigasie nou baie versigtig opweeg.

En laastens, te midde van al die onstuimigheid het die Wêreldbank ook nog ʼn waarskuwing aan SA.

Die bank is van mening dat tydige maatreëls om arm werkers by te staan en werk te skep nou nodig is.

Een voorstel is dat reëls en regulasies wat arbeidskoste opstoot, entrepreneurskap bemoeilik en werk in eie diens belemmer opgeskort moet word.

Die bank meen dat tydgebonde noodmaatreëls nou nodig is.

Die bank wys daarop dat dit ses jaar geneem het om 1,4 miljoen werksgeleenthede by die pre-Covid-19-ekonomie te voeg. Daardie getal werksgeleenthede is reeds in die bestek van een jaar verloor. Die bank meen ook dat aansporings vir indiensneming oorweeg moet word.

Sakeliga kan voorstelle vir die opskorting van regulasies wat indiensneming belemmer net ondersteun.

So ook, dink Sakeliga dat belastingkortings en selfs terugbetalings van belasting wenslik is vir ondernemings wat deur die inperkings geraak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.