Podlitiek: Ace, Moody’s en e-tol onder die vergrootglas

Die ondersoekende joernalis Pieter-Louis Myburgh maak verskeie aantygings in sy jongste boek oor staatskaping en veral oor die die sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule.

Opgestel deur die Podlitiek-span

In hierdie week se episode bring die Podlitiek-span aan jou as luisteraar die jongste nuus, vol van die week se skokke. Die beweerde korrupsie van Ace Magashule, Moody’s se besluit oor Suid-Afrika se skuld, en e-tol se besluit oor agterstallige skuld, word hierdie week onder die loep geneem.

Eerstens word daar aandag gegee aan Ace Magashule, die ANC se beleërde, of dalk eerder berugte, sekretaris-generaal. In ʼn boek deur die joernalis Pieter-Louis Myburgh, naamlik Gangster State: Unravelling Ace Magashule’s Web of Capture, word skokonthullings gemaak oor die vermeende maniere waarop hierdie magtige politikus mag bekom het, mag behou het, en mag misbruik het. Paul Maritz wys daarop hoe die boek alles – van kalfslagting tot vermeende sluipmoorde – bespreek, met al te duidelike toutjies na dié politikus toe.

Volgende bespreek Daniël Eloff die kredietagentskap Moody’s se besluit om geen uitspraak oor die status van Suid-Afrika se skuld te maak nie. Verskeie ander agentskappe het Suid-Afrika se skuld reeds tot rommelstatus gereduseer, maar Moody’s was Suid-Afrika histories goedgesind. Die vraag ontstaan egter waarom die besluit geneem is om eerder niks te sê nie – heel moontlik het dit te make met die komende nasionale verkiesing wat op 8 Mei sal plaasvind, en wat ʼn duidelike rapport van Suid-Afrika se politiese stand van sake sal wees.

Die gesprek keer dan na die e-tol-maatskappy wat onlangs aangetoon het dat historiese skuld nie verder vervolg sal word nie. Tito Mboweni, minister van finansies, is van mening dat hierdie besluit nie noodwendig die slimste besluit is nie, omdat dit natuurlik tot minder nasionale inkomste sal lei. Paul en Daniël oorweeg die tydsberekening van hierdie besluit, en die impak wat dit dalk op die Suid-Afrikaanse landskap sal hê.

Vir hul internasionale segment bespreek die Podlitiek-span die donker wolk wat tans oor Brittanje en die Brexit-proses hang. Nie net neem hierdie proses nou al bykans drie jaar nie, dit is ook uiters onduidelik wat presies Brittanje wil hê, met die Britse parlement wat aan die begin van hierdie week nog nie kon besluit watter een van die vier voorgestelde opsies vir Brexit hulle as parlement gaan ondersteun nie.

  • Met die nasionale verkiesing om die draai, kan jy nie bekostig om agter te raak met politieke nuus en gebeure nie – luister Podlitiek en bly op hoogte en ingelig! Sit gerus die gesprek in die kommentaarafdeling voort, en onthou om Podlitiek op Iono.fm, YouTube en iTunes te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dereck Le Roux ·

Ace Magashule se jakkalsstreke is niks nuut nie, dit is al ‘n ou storie wat soos sy mentor bo die wet verhewe is so is hy bo die wet verhewe, soos daar pogings deur die NVG se politieke vleuel in die kiem gesmoor was om sy mentor te vervolg (sonder vrees of guns) so is hy ook te verhewe om vervolg te word sonder vrees of guns deur die politieke vleuel van die NVG selfs al was hy op die punt om deur die Skerpioene in hegtenis geneem te word, was sy docket of deur die politieke vleuel van die NVG vernietig of dalk wie weet le dit dalk nog in die argiewe van die politieke vleuel van die NVG.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.