Podlitiek: ANC gryp Baloyi se strot, Denel bankrot en myne vrot

Opgestel deur die Podlitiek-span

ANC-se-vlag-deur-ANA

Foto: ANA

In vandeesweek se politiek is daar probleme bo en onder die grond – maar die Podlitiek-span durf weer met groot moed en baie geduld alles aan, van politieke geweld tot mynbou-moles.

Paul Maritz stel, om mee te begin, sy visier op politieke geweld in Suid-Afrika. Op Saterdag 29 September is die burgemeester van Midvaal, Bongani Baloyi, na bewering met ʼn klip geslaan terwyl sy mikrofoon by hom afgevat is. Die dader, ʼn lid van die ANC, het toe dadelik ʼn klag van aanranding téén Baloyi self gelê. Paul se kommer is dat hierdie geweld tekenend is van die ANC se benadering tot mag verloor – wat sou die gevolge wees van ʼn nasionale nederlaag, in daardie geval?

Staatsinstellings is reeds alombekend vir goeie betaling en allerhande – soms wettig en soms nie. Daniël Eloff merk egter op dat Denel diep in die sop is, soveel so dat hulle nie meer kan bekostig om selfs vir hul werknemers toiletpapier te verskaf nie. Dis veral jammer inaggenome hoe goed (in vergelyking met gewone staatsinstellings) Denel gefunksioneer het. Die span worstel dan vir ʼn ruk oor of dit gepas sou wees om Denel te privatiseer. Aan die een kant sal dit ongetwyfeld die maatskappy meer doeltreffend maak, maar is dit wenslik om die vervaardiging van oorlogstuig aan die privaat sektor oor te laat?

Daniël du Plessis noem dat daar ook onrusbarende tendense op ander vlakke van ons land se ekonomie is – veral die mynwese. As bedryf is stabiliteit en sekerheid van besondere belang vir myne, juis omdat dit so langtermynbelegging is. Die nuwe mynbou-handves voldoen egter nie aan hierdie basiese beginsels nie, en stel talle nuwe en problematiese vereistes vir mynbouregte. Veral onrusbarend is die feit dat SEB-teikens nie oordraagbaar is van een eienaar tot die volgende nie – nuwe kopers sal die proses grotendeels weer van voor af moet dryf. Paul merk op dat dit bitter jammer is, aangesien mynbou so kragtige dryfkrag in Suid-Afrikaanse ekonomiese ontwikkeling kan wees.

Hierdie week, in ʼn poging om tog ʼn paar ligpunte in die Suid-Afrikaanse situasie te ontbloot (en aan te moedig!), word die “Blink kant bo”-segment voortgesit. Daniël Eloff vind dit geweldig amusant dat die ANC se webwerf stééds buite werking is, omdat hulle nie betyds hul diensverskaffer betaal het nie.

  • Is jy onseker oor ons land se toekoms? Voel jy dalk oningelig oor politieke kwessies wat aan die orde van die dag is? Dan is Podlitiek die ideale instrument om jou opinie mee te slyp! Sit gerus die gesprek in die kommentaarafdeling voort, en onthou om Podlitiek op Iono.fm, YouTube en iTunes te volg.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JM ·

Met die anc in bewind sal alle besighede op die ou end bankrot wees

Adrian ·

Wat het mynbou goud diamante ens vir die gewone belastingbetaler in die land ooit beteken absoluut zilts. Die menere Oppenheimer is skatryk uit diamante en goud asook swart miljarders, anglo america is die base van die myne asook gekoopte Guptas. Laat elke intrepeneur wat kans sien bymekaar kom self in die mynbou ingaan, geen unies of regering ministers nie . Hoekom kan die boer in limpopo self die steenkool uithaal nie maar die Sjinees kan … dis boel

Anoniem ·

Die staat het nie om dowe neute wetgewing uitgebring dat alle mynregte aan die staat behoort nie. Hulle besluit dus wie mag ontgin, al is dit op jou grond. Hulle beskou minerale as ‘n nasionale bate, derhalwe moet ekself by die staat aansoek doen indien ek minerale op my eie grond wil ontgin en dis nie ‘n gegewe dat dit aan my toegestaan gaan word nie. Dis hoe hulle hul kaders bevoordeel. Korrupsie en selfverryking is hulle leuse.

Realis ·

@Manie – Dis ook die rede hoekom hulle reeds ‘n lys van plase en eiendomme het wat hulle wil onteien. Dit gaan oor die steenkool en ander minerale onder die grond op die plase. Hulle moet iewers die geld vandaan kry om vir die Sjinese lenings te kan betaal.

Daniel ·

Beste @Adrian, dankie vir die kommentaar!
Mens moet beslis nie die effek van mynbou vlakskat nie – veral nie in Suid-Afrika nie! Voordat ‘n mynmaatskappy sy wins kry, is daar eers heelwat goed wat moet gebeur. Gebiede met myne is, byvoorbeeld, gemiddeld veel beter af in terme van infrastruktuurontwikkeling – die hulpbronne wat hul ontgin moet immers iewers heen vervoer word! Die hulpbronne wat hul ontgin word dan ook verskaf aan talle ander besighede, binne en buite Suid-Afrika – alles wat jy nie kan groei nie, moet immers iewers gemyn word! Waar sou ons wees sonder al hierdie hulpbronne, wat gebruik word in basies elke industrie en elke huishouding. Dis egter nie al nie! Afgesien van die talle werkers en personeel wat hul inkomste uit die myne uit verdien (en dan weer dit op ander produkte in daardie gemeenskap kan spandeer), is dit nie asof die geld wat mynmagnate maak net sondermeer verdwyn nie. Elke bottel wyn, kar of ander produk wat hulle aanskaf moet immers iewers vervaardig en verkoop word. Dis die wonder van geld immers – dis iets wat oor-en-oor deur ‘n ekonomie groei – en heeltyd sy waarde vermeerder!
Ons moet dus altyd mooi dink voor ons te vinnig ontsteld raak oor groot maatskappye – veral die wat hulpbronne basies uit die niet uit kan produseer (soos myne!). Sonder hulle was ons nou veel slegter af – dis nie sonder rede dat Gauteng so goed ontwikkel is nie, after all.

Johan ·

Sal graag julle manne wil sien stry oor Denel in ‘n langer episode. Want ek dink nie daar is enige rede vir ‘n staatsbesitde wapenvervaardiger nie. Om vir julle vorige episodes te parafraseer die staat suck met alles.

ChrisE ·

Adrian, ek stem saam met jou. Die goud en diamante en al die ander minerale behoort aan vreemde moondhede oa die Amerikaners, Britte ens. Korrigeer my as ek verkeerd is, is SA en Botswana die enigste twee lande in die wereld waar ongeslypte diamante nie in privaatbesit mag wees en mee handel gedryf word nie. Die Oppenheimers is steeds in beheer met hul man in plek wat tans die president is. Ons geagte president het die National Union of Mineworkers met die Oppenheimers se geld begin. Die ou storie ” keep your friends close and your enemies closer”

Onderhandelaar ·

Almal wat al met die Chinese regering onderhandel het sal weet, dit is nue vryemark onderhandelinge nie. Moet nie ‘vryheid’ verabsoluteer nie. Soms is VRYlating van monsters wat jy reeds moet keer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.