Podlitiek: ANC-jeugliga byt in die stof en ’n half­miljoen gewere teen die SAPD

Hoërskool Overvaal. Argieffoto: ANA.

Opgestel deur die Podlitiek-span

In hierdie week se spitsvondige episode gesels Podlitiek se twee gereelde aanbieders, Daniël Eloff en Paul Maritz saam met die gasaanbieder, Daniel du Plessis, oor ’n paar goeie hofuitsprake wat verlede week gelewer is, die ANC-jeugliga se likwidasie, en die nuutste oor wapenlisensies in Suid-Afrika.

Ná ’n paar hofuitsprake deur die konstitusionele hof wat Suid-Afrikaners met die hoed in die hand gelaat het, was dit verfrissend om verlede week te hoor dat Hoërskool Overvaal nie gedwing kan word om Engelse leerders in te neem as daar plek by Engelse skole in die omgewing is nie. Die paneel bespreek hierdie uitspraak en oorweeg die onmiddellike toekoms vir Afrikaanse skole. Die gesprek keer dan na Grace Mugabe wat, volgens ’n onlangse uitspraak, nou vervolg kan word sodra sy Suid-Afrika weer binnekom.

Gasaanbieder Daniel du Plessis skuif die fokus dan na die ANC-jeugliga – en meer spesifiek hul leë beursies. Nadat die voormalige ANC-jeugligaleiers, Julius Malema en Floyd Shivanbu, wat deesdae beide by die EFF voor in die koor is, in 2010 na Helen Zille verwys het as ’n “racist girl”, is dié Jeugliga verantwoordelik gehou vir mevrou Zille se regskostes. Agt jaar later is hierdie koste steeds nie betaal nie, en nou word die ANC-jeugliga met likwidasie gedreig, om hierdie regskostes te delg.  Daniël Eloff lag so bietjie in sy mou vir die feit dat die groot sondaars nie eens meer deel van hierdie organisasie is nie.

Paul plaas die visier dan op vuurwapenlisensies. Nadat daar op 7 Junie bevind is dat die eienaars van die bykans 437 000 ongelisensieerde wapens hul wapens binne 90 dae aan die polisie moes oorhandig, het die uitspraak op 28 Julie in die Noord-Gautengse hooggeregshof, Pretoria, dat die SAPD geen wapens mag ontvang nie, baie verligting aan wapeneienaars in Suid-Afrika gebied. Dit kom nadat ’n dringende interdik deur geweereienaars Suid-Afrika toegestaan is, gebaseer op die bewering dat wapens veiliger in eienaars se kluise as in die SAPD se hande is.

Oudergewoonte hoor ons watter stories die span in die komende week dophou.  Hierdie week kyk hulle na Eskom se voortslepende stakings, hoe die uitslae van Zimbabwe se verkiesing deur die verloorder hanteer word, en die nasionale tesourie se verslag oor staatskaping by die SAL en Eskom wat tans vir kommentaar na verskeie partye gestuur is.

Sit gerus die gesprek in die kommentaarafdeling voort, en onthou om Podlitiek op Iono.fm en iTunes te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Werner ·

Die groot energieke dryfkrag agter die EFF is hulle oorsese befondsers wat soos aasvoels wag vir wanneer die land omval sodat hulle dan ons hulpbronne kan oorvat. Dit sluit sekere massamediahuise in wat die EFF so goed praat en baie dekking gee.

Hendrik ·

Die ANC wil onskuldige mense se wapens insamel om dieselfde rede waarom hulle van die internasionale strafhof wil onttrek…om grootskaalse lelike dinge met ons te doen.

White Rhino ·

Hulle probeer al jare lank om ons te ontwapen maar ons is nie fool’s nie.
Ons weet ook van die paddapot.

Petrus Swartz ·

Hi White Rhino,
Ek dink ons is fool’s want die pot kook al by borrel verby en ons dink ons gaan eendag opstaan vir onself maar ek dink ons het te lank gewag.

RM ·

Gaan kyk op sosiale media almal weet die ANC gaan die land vat met geweld behalwe die arme Afrikaner.

Johan ·

Kyk manne ek waardeer hierdie podcast baie. As mens so na julle luister klink alles wat in die land aangaan maar net soos politiekespel en gewone politiek. Maar mens wonder darem of hierdie land van ons nie reeds verby die punt van terugkeer is nie. As Suid-Afrikaners ontwapen word gaan dit kort voor lank 100% verby wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.