Podlitiek: ANC-manifes, Schweizer-protes en Denel-moles

Gillette-advertensie

‘n Skermskoot uit die advertensie van Gillette wat mense wëreldwyd aan die gons het.

Opgestel deur die Podlitiek-span

Podlitiek wil graag sy dank uitspreek teenoor die politieke partye, leiers en sosiale media van Suid-Afrika wat sorg dat hierdie podsending weekliks ’n oorvloed van flaters, oorreaksies en verontwaardiging het om oor te gesels en die gek mee te skeer.

Hierdie week fokus Podlitiek op vier van hierdie nuusgebeure, naamlik die ANC se nuwe 2019-manifes, die Schweizer-Reneke-protes, die Denel-moles en Gillette wat geslaan word vir ’n ses.

Daniel du Plessis skop die episode af met ’n analise van die ANC se manifes wat bekendgestel is kort voor die 2019- nasionale verkiesing. Daniel plaas die klem op ’n paar kommerwekkende beleidsposisies wat die ANC inneem maar wat eintlik net ’n voortsetting is van die party se tog na volle sosialisme toe. Daniël Eloff wys ons daarop dat Suid-Afrika tot dusver arm is aan ʼn behoorlike vryemark. Dit is ook belangrik om daarop te let dat die sosialistiese aard van die ANC lank voor Cyril Ramaphosa reeds bestaan het en dat dit selfs ná Cyril Ramaphosa sal voortduur.

Paul Maritz draai die gesprek na die gebeure by ’n laerskool in Schweizer-Reneke. Verlede week het ’n sosialemediabom gebars toe daar ’n foto geplaas is waar dit op die eerste oogopslag lyk asof kleuterleerders geskei word op grond van hul ras. Talle politieke partye het hiervan onmiddellik ’n rassekwessie gemaak sonder om koelkop eers alle feite in die hande te kry. Nodeloos om te sê het dit later duidelik geword dat die foto misleidend was en daar geen rassisme betrokke was nie. Daniel du Plessis wys daarop dat die sosiale samestelling van Suid-Afrika – veral die afgelope paar jaar – ongelooflik baie verander het en dat politieke partye desperaat is om stemme te lok deur verdelend te wees.

Die laaste plaaslike besprekingspunt handel oor Denel wat Danie du Toit as uitvoerende hoof aangestel het – tot groot onsteltenis van sommige organisasies soos die Black Management Forum. Hierdie is maar net nóg ’n voorbeeld van Suid-Afrika se beheptheid met ras. Daniel du Plessis wys daarop hoe hierdie groepe wat oproer maak oor hierdie aanstelling, nie omgee vir die kwesbare mense in ons land nie, maar slegs lawaai oor kosmetiese transformasie ten koste van sukkelende staatsinstellings.

Podlitiek bring ook in hierdie episode vir die eerste keer ’n kort segment oor internasionale nuus. Hierdie week fokus die span op ’n advertensie deur Gillette wat mans beskuldig van “toksiese manlikheid”. Die feit dat die advertensie byna drie keer meer duime af as duime op gekry het op YouTube, spreek vanself.

  • Is jy onseker oor ons land se toekoms? Voel jy dalk oningelig oor politieke kwessies wat aan die orde van die dag is? Dan is Podlitiek die ideale instrument om jou opinie mee te slyp! Sit gerus die gesprek in die kommentaarafdeling voort, en onthou om Podlitiek op Iono.fm, YouTube en iTunes te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

TP ·

Partynaam: Transparency Party (TP)

Embleem: ‘n rol toiletpapier op ‘n SA-landskaart
Leuse: “Want politiek is ‘n vuil besigheid.”

Dit is net semi-tong-in-die-kies, aangesien dit ook die werklike oplossing tot ons politieke probleem uitwys: deursigtigheid in regering.

Paul ·

En nou weet ons dat Malema en kie, die BLF, die ANC jeugliga, die DA jeugliga en sekere opportunistiese rubriekskrywers soos sekere Profs sal verseker nie wag totdat die werklike storie ‘n week of twee daarna bevestig is nie, want hulle floreer en baseer hul storie op die persoon wat in die slaggat getrap het. Ons het nou al vir paar jaar ondervinding daarvan en nog steeds sal mense in die slaggat trap en nog steed sal die voormelde mense daar wees om munt daaruit te slaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.