Podlitiek: Belasting, benaming en bewaring

podlitiek-se-manne

Die aanbieders van Podlitiek is (agter v.l.n.r.) Daniël Eloff, Hermann Pretorius en (voor) Paul Maritz. Foto: Podlitiek/Facebook.

Opgestel deur die Podlitiek-span

In hierdie episode gesels Daniël, Paul en Hermann oor Grahamstad se voorgestelde naamsverandering, die kommissie van ondersoek na die situasie by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en word daar ’n argument gemaak vir die bewaring van wild deur kommersiële jag.

Daniël lei die episode in deur te gesels oor wie Makhanda was en hoekom daar voorgestel word dat Grahamstad se naam na Makhanda verander behoort te word. Hermann wys daarop dat die Grondwet duidelik stel dat ons na ons verlede moet terugkyk en daarop moet voortbou en dat naamsverandering eintlik die geskiedenis ignoreer.

Die nuutste verwikkelinge in die Tom Moyane-saga by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens word deur Paul bespreek en hy gee vir ons ’n breedvoerige agtergrond oor die kommissie en hoekom dit saamgestel is. Ons twee regskenners, Daniël en Hermann, gesels oor die aard en funksies van so ’n kommissie van ondersoek en kom tot die gevolgtrekking dat Moyane se kritiek teen die kommissie geen regverdigbare regsgronde het nie.

Laastens is daar ’n lekker vurige gesprek oor jag en bewaring. Hierdie onderwerp het weer geweldig baie aandag op sosiale media en die nuus geniet toe ’n jong Amerikaanse dame, Tess Thompson Talley, ’n foto van haar by haar trofeekameelperd op sosiale media geplaas het. Hermann en Paul maak ’n sterk saak ten gunste van jag as ’n meganisme om wild te bewaar deur dit te kommersialiseer. Daniël glo (tong in die kies) dat dit ’n skreiende skande is dat meer mense nie jag nie. Gee hierdie mense dan nie om vir die diere nie?

Die span sluit die episode af met ’n paar toekomstige nuusgebeure wat almal kan dophou, onder meer, die ANC wat vra vir proporsionele advertensietyd by die SAUK, die Zimbabwiese verkiesing en moontlik skokkende nuus oor Zimbabwe se oudpresident Mugabe en ons eie oudpresident Zuma wat die ANC met veldtogte gaan help in die opkomende 2019-verkiesing.

  • Wil jy meer weet oor die aanbieders van Podlitiek en uitvind wat hulle beplan met die reeks podsendings? Luister gerus na hierdie klankgreep om meer hieroor uit te vind:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Barry H ·

Dankie, kêrels, vir die insiggewende episode! Lekker om saam met julle te dink oor hierdie dinge! Ek stem saam dat ons eerder beginsels moet navolg as pragmatisme!

Adoons ·

Ek spring sommer dadelik in my bakkie om te gaan jag. Alles vir die diere se onthalwe natuurlik.

Paul Maritz ·

Goeiemore Barry, baie dankie dat jy geluister het! Deel gerus hierdie episode met jou familie en vriende, gaan volg ons op iTunes, en los vir ons ‘n resensie daar as jy kans kry! Al hierdie dinge sal dit vir ons moontlik maak om podlitiek in die toekoms te laat groei!

Paul Maritz ·

Dankie, Adoons, dat jy geluister het! Ons is natuurlik, soos jy, sekerlik, teen uitbuitende of onregverdige vorms van jag, maar gereguleerde, wettige jag is ‘n groeiende industrie wat werk skep en die ekonomie uitbou! Deel gerus hierdie podlitiek episode met jou jag-kammerade!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.