Podlitiek: Berade, Sasol-beleid verslegtings en Nkandla-beregtings

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: ANA

Opgestel deur die Podlitiek-span

In vandeesweek se episode is dit vir die Podlitiek-span baie duidelik dat geld wat stom is, nie regmaak wat krom is nie – selfs nie as jy pres. Cyril Ramaphosa is nie.

Kort op die hakke van die Werksberaad het die regering hom nou ook gewend na ‘n Beleggingsberaad. Daniel du Plessis bespreek die inhoud van hierdie beraad en wys uit dat meer belegging nooit te versmaai is nie – maar spreek sy kommer uit dat daar nie juis rede is om te glo dat die onderliggende ekonomiese en regulatoriese realiteite van Suid-Afrika enigsins al verander het nie. Die beraad moet dus, volgens hom, met ʼn mate van gesonde skeptisisme benader word. Daniël Eloff wys uit hoe dit interessant is om daarop te merk dat Jack Ma, die uitvoerende hoof van Alibaba – ʼn Chinese aanlynwinkel en groot mededinger teen die Amerikaanse Amazon – teenwoordig was by Ramaphosa se beraad. Dit blyk ʼn verdere teken te wees dat Ramaphosa hom eerder by die Ooste skaar wanneer dit kom by ekonomiese bande.

Sasol se kontroversiële Khanyisa-aandeleskema is volgende aan die beurt. Volgens hierdie skema word ongeveer 1 240 aandele in hierdie skema aan alle Sasol-werknemers uitgereik mits hulle binne die kategorie van “minderbevoorreg” val (of wit én senior is). En hierdie is nie kleingeld nie – die uiteindelike uitbetaling van hierdie aandelepakkette word elk op sowat R500 000 beraam. Solidariteit het namens sy lede teen die blatante rassediskriminasie opgetree en deur Sandton gestap in protes. Paul Maritz spreek sy kommer uit oor hoe ʼn duidelik diskriminerende beleid soos die Khanyisa-aandeleskema steeds in vandag se tyd kan bestaan.

Die laaste onderwerp van hierdie episode bespreek Daniël Eloff AfriForum se onlangse bystand aan die Nkungumathe-gemeenskap in Nkandla. AfriForum het saam met die gemeenskap die KwaZulu-Natalse hooggeregshof in Pietermaritzburg genader om die KwaZulu-Natalse provinsiale regering te dwing om hul belofte van ʼn skool aan die gemeenskap na te kom. Die Podlitiek-span wys daarop hoe sommige mediahuise hierdie projekte van AfriForum miskyk – en nie erkenning gee aan AfriForum waar sy projekte verskeie gemeenskappe in die land help nie.

Om die episode mee af te sluit, kyk die Podlitiek-span na ʼn paar positiewe of interessante verwikkelinge in sy gereelde Blink Kant Bo-segment. Eerste aan die beurt is die nuus dat ʼn maatskappy in China van voorneme is om ʼn tweede maan te bou om lig vir plaaslike stede gedurende die nag te verskaf. Hierdie is die eerste keer in die Blink Kant Bo-segment waar ons letterlik te make het met ʼn blink kant bo! Daniel du Plessis deel sy vreugde oor die nuus dat Twitter oorweeg om die like-funksie op die sosialemediaplatform te verwyder.

  • Is jy onseker oor ons land se toekoms? Voel jy dalk oningelig oor politieke kwessies
    wat aan die orde van die dag is? Dan is Podlitiek die ideale instrument om jou opinie mee te slyp! Sit gerus die gesprek in die kommentaarafdeling voort, en onthou om Podlitiek op Iono.fm, YouTube en iTunes te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Barry H ·

Lekker soos altyd. Ek dink sy edele Cyril moet besluit of hy beleggers wil hê of ‘n kommie wil wees. Mens kan nie beide wees nie.

John ·

Onse nuwe prez kies sy geselskap fyn… net hogeres met baie geld of baie probleme, of albei. Kyk nou vir sy gevry na Merkel &Kie. Duitsland is ryk en Duitsland sit met massas onwelkomes wat met ope arms ontvang is. Word ons nou die aanneemouers? Die DA kan gerus vra hoeveel die VN en die EU ons betaal om die duisende Afrokane hierheen te laat stroom ipv te rubberboot na Europa. Ons moet beslis iets kry anders het iemand ‘n stukkende broeksak. Arabiese konings en nou Ma. Is dit nie bakhandstaan op sy beste is nie…

Lizelle Wessels-Hendriks ·

Suid-Afrika voel nie meer vir my soos my land, my geboorteland nie. Daar is soveel immigrante van oral dat dit voel of ek identiteit verloor. Maar ons het geen keuse hierin nie. Ons doen alles in ons vermoë om ons dogtertjie ‘n toekoms te gee sodat sy darem eendag in ‘n ander land kan gaan woon.

Jou Buis ·

Ek is ook baie bly dat mense deur die massamedia sien en alternatiewe media gebruik. Alternatiewe media moet nou net leer om meer van gewone mense se besighede se advertensie inkomste te gebruik, dit sal n wen wen situasie wees want dit sal alternatiewe media sterker maak en sal gewone mense se besighede blootstelling gee. Nog n belangrike ding is dat alternatiewe media en gewone mense meer van youtub e en ander elektroniese platforms moet gebruik om eie video kanale te begin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.