Podlitiek: Bokke wil nie kniel, inperking verniel en korrupsie laat steeds wiel

Opgestel deur die Podlitiek-span

Minister Nathi Mthethwa. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Van die binnekamers van hul huise kruip die Podlitiek-span hierdie week, soos elke week, virtueel na die voorgrond met raakvat kommentare, ongemaklike waarhede, en belese gissings. Hierdie week oorweeg die paneel ʼn paar nuusstories wat oor hul lessenaars gewals het, spesifiek die minister van sport se mening oor knieë in die lug, die presidensie se tydsberekening met rook in die lug, en korrupte politici se wandeling in die opelug.

Die eerste storie wat bespreek word, is minister Nathi Mtethwa se voorgenome ondersoek na die gedrag van Springbok-rugbyspelers wat in Engeland speel, wat nie die afgelope naweek die knie gebuig het soos wat die norm geword het nie. Mthetwa voer aan dat hierdie gedrag natuurlik onaanvaarbaar is, maar wat Podlitiek meer pla is die implikasies hiervan. Dink ʼn staatsamptenaar werklik dat hy vir ʼn landsburger mag voorskryf hoe hy oor ʼn saak moet voel, en verder, hoe hy daaroor moet optree?

Volgende aan die beurt is die omskakeling na vlak 2 van die inperking. Alhoewel baie mense eweskielik jolyt maak en vrolik rondtrippel omdat eerwaarde Ramaphosa ons vrygelaat het, of ten minste, ten dele vrygelaat het, betreur Podlitiek die gevalle helde van die Covid-19-inperking. Hoeveel besighede is nie tot niet nie? Hoeveel mense sit nie werkloos en moedeloos nie? En vir wat? Was hierdie inperking, wat in baie opsigte die strafste ter wêreld was, werklik die moeite werd, en het dit werklik die effek gehad wat gewens en beloof is?

Laastens bespreek Podlitiek die valsheid van die ANC se anti-korrupsie-veldtoggie wat tans aan die gang is. Die nuus het Podlitiek bereik dat Zandile Gumede, eertydse burgemeester van Durban, ondanks verskeie klagtes van korrupsie, weer in die provinsiale wetgewer aangestel is. Hoe ernstig is die ANC dan werklik oor wet en orde? Podlitiek neem ʼn raaiskoot rakende hierdie kwessie…

Podlitiek lewer nie die nuus nie, hulle maak dit. Luister Podlitiek.

Die Podlitiek-span bestaan uit Hermann Pretorius (IRV), Ernst van Zyl (AfriForum), Paul Maritz (Solidariteit) en Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.).

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.