Podlitiek: Braaivleis, Bheki en die Boere

Opgestel deur die Podlitiek-span

Bheki Cele Saterdag gedurende sy besoek aan die Kinnears se huis. (Foto: Verskaf)

Effens uitgedun deur langnaweekkoors keer ’n deel van die Podlitiek-paneel hierdie week terug om die week se nuus- en politiekgebeure te ontnonsens, en ’n bietjie lig te probeer skyn in die donker hoeke en draaie van die Suid-Afrikaanse politieke speelveld – waar die lyne krom is en dit nie presies duidelik is wie uiteindelik wen nie.

Die eerste storie wat bespreek word, is die opmerkings deur die minister van polisie, Bheki Cele, by ’n onlangse imbizo in KwaZulu Natal, waar die minister nie net motiveer het dat plaasmoorde nie ’n prioriteitsmisdaad is nie, maar ook aan boere gevra het wie hulle dink hulle is deur hierdie tipe behandeling te verwag. Met plaasmoorde wat lank reeds ’n emosionele kwessie is, word dit deesdae ook toenemend ’n internasionale kwessie, en dit kom vir die Podlitiek-span voor asof minister Cele (en mense wat soos hy dink) dalk binnekort aan die verkeerde kant van die politieke geskiedenis gaan beland.

’n Volgende stop vir die Podlitiek-trein is Erfenisdag. Wat beteken erfenis vir Suid-Afrikaners, en het ons werklik ’n sentrale of gedeelde erfenis? Wat is dit wat ons vier, wat is dit wat ons onthou wanneer ons praat oor erfenis, en praat oor dit wat ons as verskillende kultuurgroepe hoog ag? Ernst en Paul bespreek die hiërargie van identiteite, en hoe dit mense in Suid-Afrika beïnvloed, asook wat die toekoms en die hede inhou wat nie vermy kan word nie.

Laastens word die afsterwe van die Amerikaanse regter Ruth Bader Ginsburg bespreek. Haar dood het ’n klomp reaksies oor die ganse spektrum na vore gebring, met die gevolglike vraag oor haar opvolger. Behoort hierdie opvolger voor of ná die verkiesing van 3 November bekendgemaak word? Tyd, en stryd, sal sekerlik leer.

Podlitiek lewer nie die nuus nie, hulle maak dit. Luister Podlitiek.

  • Die Podlitiek-span bestaan uit Hermann Pretorius (IRV), Ernst van Zyl (AfriForum), Paul Maritz (Solidariteit) en Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.).

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.