Podlitiek: Buitelandse kritiek, Hoërskool Driehoek en EFF-manifes skok

Foto: Verskaf

Opgestel deur die Podlitiek-span

Die Podlitiek-span is hierdie week terug in die ateljee en neem hul kruistog teen feitefoute, swak beleide en flaters deur politici voort. Die span bespreek die memorandum gestuur aan president Ramaphosa deur verskeie Westerse lande, die EFF se 2019-manifes en dan op ’n somber noot, die skokkende gebeure by Hoërskool Driehoek.

Verlede week is die nuus gebreek dat die Verenigde State van Amerika, die Verenigde Koninkryk, Nederland, Switserland en Duitsland ’n memorandum aan president Ramaphosa gestuur het wat waarsku dat die versuim om korrupsie die hoof te bied, beleggings deur hierdie lande Suid-Afrika sal beïnvloed. Die regering se reaksie was dat Westerse lande hulle nie met ons sake moet bemoei nie en dat diplomatieke protokol nie gevolg is nie. Die feit dat lande so sterk standpunt ingeneem het teen Suid-Afrika, is kommerwekkend.

In ’n somber deel van die episode bespreek die span die tragedie van Hoërskool Driehoek en die afskuwelike reaksie deur Lindsay Maasdorp. Daniel du Plessis argumenteer dat hierdie die slegste en donkerste vorm van rassisme is. Ten spyte daarvan dat die span sterk gekant is teen die BLF se uitlatings, spreek hulle terselfdertyd hul dank uit vir individue en organisasies wat die BLF aanspreek en aanspreeklik gaan hou vir die onaanvaarbare politieke gedrag.

Op ’n ligter noot kyk die span na enkele beleidstandpunte wat die EFF ingeneem het in hul 2019-verkiesingsmanifes. Die EFF se eenvoudige Marxistiese sienings oor gesondheidsorg en finansies is ʼn goeie voorbeeld van hoe die EFF nog vashou aan ’n byna dooie ideologie.

Op die internasionale front spreek Paul Maritz sy sterk kritiek uit teen die nuwe aborsiewetgewing in die Amerikaanse state van New York en Virginia wat nou aborsies tot in die derde trimester toelaat.

Die episode sluit af met ’n paar positiewe verwikkelinge in die onlangse nuus wat insluit hoe mense op sosiale media saamstaan en nuwe spinnekoppe wat ontdek word.

  • Voel jy onseker oor wat aan die gang is in die Suid-Afrikaanse politiek? Dan is Podlitiek die slypsteen wat jy nodig het om ’n skerp en spitsvondige politieke mening te ontwikkel. Sit gerus die gesprek in die kommentaarafdeling voort, en onthou om Podlitiek op Iono.fm, YouTube en iTunes te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

honoruable member ·

Hierdie narre sal hulle sokkies moet optrek. Die buiteland het nie tyd vir hierdie rassistiese strooi wat hier aangaan nie en as gevolg daarvan gaan hulle nie sommer hier bele nie so hier gaan geen werk geskep word wat hulle die menigte so belowe nie.
Soos hulle se “wake up and smell the coffee” Die land is besig om te brand broers en susters.

Chris ·

Frankryk het nie die memorandum onderteken nie. Dit was Nederland, wat die tweede grootste buitelandse investeerder in SA is.

Esté Meyer Jansen ·

Hallo Chris

Jy is natuurlik reg, dankie dat jy dit uitgewys het.
Die artikel is pas gewysig.

Groetnis
Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

T ·

Hulle is soos klein kindertjies, nie ‘n clue wat hulle doen goed affekteer en benadeel nie hulle kyk noord en … voort, soos ‘n volstruis druk hulle hulle koppe in die grond …

Jo ·

Nee T, erger as ‘n volstruis. ‘n Volstruis druk nie hulle koppe in die grond nie, maak nie saak wat die gesegte sê nie. ‘n Volstruis is op en wakker – maak nie saak hoe laat ons in die aand lig nie – die volstruis se kop is omhoog – maar wat wel waar is (Dit word in die Bybel 3x genoem) is dat die volstuis nie met wysheid geseënd is nie… Daardie deel is van pas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.