Podlitiek: Cecil val weer, Lesufi wil beheer en taxi-reis gekeer

Opgestel deur die Podlitiek-span

Die standbeeld van Cecil John Rhodes by die Oriel College in Oxford, Engeland. (Foto: AP Photo/Matt Dunham)

Soos die temperatuur buite daal, word dit al hoe warmer in die Suid-Afrikaanse politiek. Juis daarom is dit nodig om al die inligting, gebeure en neigings ’n bietjie te ontnonsens, soos net die Podlitiek-span dit kan doen.

Die val van Cecil John Rhodes se standbeeld in Oxford, Panyaza Lesufi se opmerkings oor Orania, en taxi-stakings kom dié week onder die loep.

Daar word weggespring met ’n kykie na Rhodes se standbeeld wat onlangs in Oxford verwyder is. Alhoewel baie Afrikaners sal saamstem dat Rhodes nie hul gunstelingkarakter is nie, fokus die Podlitiek-paneel eerder op die tendens agter hierdie benadering tot die geskiedenis. Moet ons aanhou om geskiedenis uit te wis totdat niemand meer enige aanstoot kan neem nie? Bestaan daar ooit so ’n realiteit?

Volgende aan die beurt is Lesufi, omstrede Gautengse LUR vir onderwys, se uitlatings oor Orania.  Tydens ’n kranslegging by die graf van politieke stryder Harry Gwala, wat die afgelope Sondag plaasgevind het, het Lesufi hom verstout om te noem dat Orania toegemaak behoort te word omdat alle Suid-Afrikaners orals moet kan bly. Hier word verskeie dinge bespreek, veral Lesufi se liefde vir verdeling, sowel as sy gedurige gebruik van Afrikaans en Afrikaners as ’n rookskerm om sy eie misstappe te verdoesel.

’n Laaste onderwerp wat bespreek word, is die taxibedryf se stakings, wat tans ’n verlammende effek op ’n reeds kreupel ekonomie het. Die ergste van alles, so meen Podlitiek, is die redes waarom daar gestaak word. Nie net betaal hierdie industrie geen belasting nie, daar is nou klagtes dat die reddingsboei wat uitgerol word, nie groot genoeg is nie. Uiteindelik wonder Podlitiek of hierdie sektor se houvas oor die nasionale ekonomie nie heeltemal te groot is nie.

By Podlitiek lewer ons nie net die nuus nie, ons maak dit. Luister Podlitiek.

Die Podlitiek-span bestaan uit Hermann Pretorius (IRV), Ernst van Zyl (AfriForum), Paul Maritz (Solidariteit) en Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.).

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.