Podlitiek: Cele wil dop verbied, hoe lank nog in grendelstaatgebied?

Opgestel deur die Podlitiek-span

Bheki Cele. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Die landwye tydperk van afsondering is in sy tweede week en alhoewel die Podlitiek-span, tot hul ergernis, nie deur die regering as ’n noodsaaklike diens beskryf word nie, het Podlitiek besluit om nou maar in elk geval aan te hou om hul diens aan die publiek te lewer.

Daarom, vanuit alle hoeke van die ou Transvaal, bring die vier paneellede van Podlitiek hierdie episode aan die luisteraar, waar hulle oudergewoonte die nuusgebeure van die week onder die vergrootglas plaas.

Met die deur in die huis geval, spring Podlitiek weg met ’n bespreking oor die polisie se pedantiese maatreëls wat die publiek werklikwaar soos kinders hanteer. Geen sigarette, geen drank, geen draffies met jou hond, en geen bevraagtekenbare bewegings nie. Hoe moet die Suid-Afrikaner hieroor voel? Deels, so stel Podlitiek dit, verstaan ʼn mens waarom die regering versigtig is, maar sekerlik word dinge tans te ver gevoer?

Volgende draai die Podlitiek-paneel weg van die Covid-19-pandemie na die Suid-Afrikaanse ekonomie. Dat dit nie goed gaan nie, is reeds verlede week deur Moody’s bevestig, maar die vraag is dan, wat nou? Minister Tito Mboweni wil graag vir geldjies gaan vra by die Internasionale Monetêre Fonds, maar Hermann wonder of ons werklik kwalifiseer vir hierdie tipe hulp. Selfs nader aan minister Mboweni, wonder etlike lede van die ANC hardop of die lenings nie sal lei tot ’n drastiese afname in hul luukse leefstyle nie.

Laastens wonder Podlitiek hardop wat op 16 April 2020 gaan gebeur. Gaan die deure vir ons oopgemaak word, gaan ons normaal kan voortgaan en floreer, of, soos wat ons dalk almal onderlangs mor, gaan die tydperk van afsondering verleng word? Ernst bespreek die denkpatrone wat tipies onder mense begin ontwikkel wat vir ’n té lang tydperk ingeperk word, en hoe mense moontlik binnekort teen hierdie regulasies gaan begin skop. Teen volgende week se episode sal ons sekerlik al weet waar ons trek ten opsigte van die inperking.

By Podlitiek lewer ons nie net die nuus nie, ons maak dit. Luister Podlitiek.

Die Podlitiek-span bestaan uit Hermann Pretorius (IRV), Ernst van Zyl (AfriForum), Paul Maritz (Solidariteit) en Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.).

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Maria ·

Uitstekend! Baie dankie. Die IMF het ook maar ‘n slegte geskiedenis, baie lande het erg seergekry na hulle sg hulp.

Michelle ·

Vir die eerste keer het Minister Cele my respek die moorde is af, die gewelmisdaad is af dit is wonderlik om te weet jy kan rustig slaap. Mense het nie meer respek nie ek het gesien met die ‘lockdown’ hul ry om drank te gaan soek. Hul kuier van huis tot huis van woonstel tot woonstel. Hul koop skelm drank maar as hul die virus optel of hul bring dit na ‘n familie lid wil ek sien hoe gaan jy afskeid neem. Daar is nie ‘n laaste afskeid langs ‘n hospitaal bed nie. Minister Cele u het uitstekende besluite geneem met die epidemie jammer die mense luister nie.

Josua ·

Michelle, ek stem 100% saam jou drank en sigarette is n ewel in SA ook regoor die wereld, mense het dit nie nodig nie maar het so selfsugtig met die jare geword dat hulle nie ‘n vlenter omgee oor die res van die wereld nie. Ja ek hou ook van kamp, braai ens en hou van ; n lekker yskoue wyntjie ens maar dit het nog nooit my lewe beheer nie en ek kan beslis daar sonder oor die weg kom, dieselfde met sigaret rook die haatlikste reuk in n vertrek, jou klere en in die lug mense kan daar sonder ook maar waag net om dit te noem dan kom die selfsugtigheid ten sterkste na vore en jy word uitmekaar getrek soos nooit tevore nie. Mediese fondse het onsaglig duur geword juis agv misbruik van alkohol en longsiektes en dit het vir baie mense onbekostigbaar geraak juis agv diè mense se selfsugtigheid maar waag dit net om dit vir hulle te sê dan is jy die vark in die verhaal so word duisende kinder, oupas, oumas, pas’s en ma’s, weerhou van goeie gesondheidsorg in behoorlike hospitale.

Chris ·

ons sal maar sien hoe ver kom hulle met al die gedagtes. Party klink vir my net eenvoudig nie haalbaar nie.

msp ·

Ek is nie ń roker of ń drinker nie maar mense wat nie rook of drink nie het ook nie nodig om hulle te verlekker daarin omdat ander nie kan drink of rook nie. Om op te hou met rook of drink is ń persoonlike besluit en om hulle te dwing om op te hou sal verseker wetteloosheid aanwakker bv die klomp wat ń bottelstoor gestroop het en net 2 is inhegtenis geneem. Mense gaan ander maniere soek om dit in die hande te kry. Ook het die verbod op rook en drank glad nie bygedra tot ń afname van kriminele misdaad nie maar wel die grooter teenwoordigheid van geregsdienaars en die lockdown. Baie mense het dit al deurgestuur dat daar plofbare houdings in hulle huise is as gevolg van die verbod en ongeduldigheid teenoor kinders en troeteldiere. Min mense sal die ongerief wat hul moet verduur oordra aan die polisie en probeer hul bes om dit te verdra. Maar net my siening.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.