Podlitiek: Clicks se hare waai, ekonomie afgemaai en DA maak ‘n draai

Opgestel deur die Podlitiek-span

Die gewraakte advertensie.

In ’n week waar die hare gewaai het, petrolbomme gestook is, en self Julius Malema vir die eerste keer in maande ’n rede gehad het om die huis te verlaat, kom Podlitiek se pittige span van jong politieke ontleders weer eens byeen vir ’n blik oor nuusgebeure in die land.

Die Podlitiek-span kyk eerstens na die amptelike opposisieparty, die DA, se beleidskongres wat die afgelope naweek plaasgevind het. Die DA het ’n paar interessante skuiwe gemaak, onder meer ’n verskerpte fokus op federalisme en nierassigheid. Ook op die ekonomiese front kom dit voor asof hulle ’n vryer mark verkies. Die Podlitiek-span gesels so bietjie oor die tipe optrede wat hierdie histories klassiek-liberale party in die volgende jare aan gekenmerk sal word, en watter tipe beleid van hulle te wagte behoort te wees.

’n Volgende storie wat bespreek word, is die groot storie van die week, die harige gemors waar Clicks homself ingedompel het met ’n onlangse advertensie wat swart hare as droog en stukkend beskryf, terwyl wit hare as plat en gesond beskryf word. Die reaksie van veral die EFF was kommerwekkend, alhoewel nie verbasend nie, soos Clicks-winkels landwyd deurgeloop het onder geweld en plundering. Podlitiek bespreek die moontlikheid daarvan dat die hele sage ’n rookskerm is wat die aandag van die ANC se annus horribilis moes aftrek, en hoe effektief dit was.

’n Derde plaaslike storie is die nuut vrygestelde ekonomiese syfers, wat aandui dat Suid-Afrika se ekonomie in ʼn hewige krisis gedompel is. Die man op straat verstaan sekerlik dat ’n wêreldwye pandemie tot ekonomiese inkrimping kan lei, maar Podlitiek se paneel spreek hulself woedend uit oor die domastrante besluite wat geneem is om die ekonomie in die eerste plek hier te kry.

Podlitiek lewer nie die nuus nie, hulle maak dit. Luister Podlitiek.

  • Die Podlitiek-span bestaan uit Hermann Pretorius (IRV), Ernst van Zyl (AfriForum), Paul Maritz (Solidariteit) en Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.).

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sandra ·

” terwyl wit hare as plat en gesond beskryf word”.Eintlik word wit mense se hare ook hier beledig. Ek sal die hel in wees as iemand se my hare is plat. So moet ek ook goed gaan rondgooi van die rakke af in Clicks? Nee, want my ma het my beter grootgemaak, en my geleer om konflik en beledigings goed te hanteer.

petro ·

Sjoe, hoekom moet almal altyd so fyngevoelig wees. In die advertensie is die meisie met die blonde hare ook gekritiseer oor haar hare. Hoekom nou weer alles gaan plunder? Of moet ek myself antwoord. Want hulle wil en kan!

Fluisterwind ·

Eerstens, is die sjampoo nie verkeer nie, dit is die advertensie wat pla…. Tweedens, kan die EFF ook so passievol wees oor korrupsie in die regering, en dalk die parlement bietjie met petrol bomme bestook?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.