Podlitiek: Dagga, verkiesingvoorspellings en ’n stimuluspakket

dagga-plant

Foto: Verskaf.

Opgestel deur die Podlitiek-span

Net omdat dagga nou wettig is, beteken dit nie dat die Podlitiek-span kans sien om te ontspan nie – want hulle besef goed, waar daar ʼn rokie is, is daar gewoonlik ʼn vuurtjie.

Paul Maritz begin die gesprek deur uit te wys dat die petrolprys nie al is wat deesdae hoog is nie. Ná die konstitusionele hof se uitspraak op 18 September 2018, is dit nou moontlik ook vir Suid-Afrikaners om, wettiglik, hoog te rook. Daniël Eloff gee nie soseer om oor die inhoud van die uitspraak nie – die werklike kommerwekkende aspek van hierdie beslissing is eerder dat die hof homself die reg weer eens toegeëien het om drastiese besluite namens die Suid-Afrikaanse publiek te neem, sonder om ʼn behoorlike demokratiese proses te volg. Daniel du Plessis is van mening dat dit ʼn onheilspellende blik op die toekoms kan wees – hier was die reg tot privaatheid gebruik om die hof die vermoë te gee om normale demokratiese prosesse te systap, maar dit laat die deur oop vir byna oneindige eensydige besluitneming deur die konstitusionele hof.

Suid-Afrikaanse demokrasie gaan dalk wel ook binnekort aansienlik anders daar uitsien – Daniel du Plessis gebruik die geleentheid om ʼn paar opmerkings oor die nuwe IRV-meningspeiling te maak. Of mens nou werk vanaf vorige meningspeilings, of die vorige verkiesing se uitslae, die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) belowe aansienlike verandering. Die ANC is verwag om net 52% van die nasionale stem te kry, met die DA en EFF op 23% en 13% onderskeidelik. Dit wil sê dat die DA se steun, klaarblyklik, net marginaal gegroei het sedert 2014, en dat dié van die EFF verdubbel het. Die span het wel hul bedenkings oor hierdie meningspeiling, want ʼn foonopname (en dit met net onder die 1 000 deelnemers) is nie juis gewaarborgde akkuraatheid nie. Anders as die Ipsos-peiling van vroeër die jaar (wat die DA op 13% geplaas het) is daar hier ook ʼn poging aangewend om onseker kiesers by hul mees waarskynlike keuses in te deel – altyd iets van ʼn dobbelspel.

Die ANC se enigste hoop, as hierdie onrusbarende syfers waar is, sou wees om dringend, en met nuwe beleide, steun te kry. Aan die kern van hierdie poging, voer Daniël Eloff aan, lê Ramaphosa se nuwe stimulusplan. Hoewel daar ʼn paar gawe items op die president se agenda is, is Daniël bevrees dat hierdie pakket doodgebore is. Die span is dit eens: om geld rond te skuif is net nie ingrypend genoeg om Suid-Afrika se ekonomiese swanesang om te keer nie.

Hierdie week, in ʼn poging om tog ʼn paar ligpunte in die Suid-Afrikaanse situasie te ontbloot (en aan te moedig!), word die “Blink Kant Bo”-segment voortgesit. Daniel du Plessis is uiters opgewonde oor 300 nuwe woorde wat nou ook toegelaat word in krabbel (scrabble). Paul merk op dat MTN sy gratis Twitter-pakket gestaak het – en sy teorie is dat dit dalk sal lei tot minder mense, maar meer sinvolle debat op dié platform. Daniël Eloff bemerk dat daar aansienlik meer internasionale bewustheid is oor die grondhervormingsdebat in Suid-Afrika, wat hopelik sal help om ons regering tot sy sinne te roep.

  • Is jy onseker oor ons land se toekoms? Voel jy dalk oningelig oor politieke kwessies wat aan die orde van die dag is? Dan is Podlitiek die ideale instrument om jou opinie mee te slyp! Sit gerus die gesprek in die kommentaarafdeling voort, en onthou om Podlitiek op Iono.fm, YouTube en iTunes te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Willem ·

Hierdie is ‘n absolute moet luister Podlitiek en lees artikel. Ek wens elke Suid Afrikaner kan oop oë kennis hiervan neem. Al wat ek kan sê is, veral betreffende die konstitusionele hof … hier kom pêre.

Johan ·

Ek glo nie die IRR se opname is akkuraat nie maar dit was lekker om te sien dat min mense omgee oor grond. Nou moet die ANC net dit ook besef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.