Podlitiek: De Ruyter op ʼn wit perd en is Mmusi ʼn party werd?

Opgestel deur die Podlitiek-span

André de Ruyter

Terwyl vele Suid-Afrikaners oor die hele land by lughawens gestrand sit weens die twee groot SAL-stakings, is Podlitiek daar vir sy luisteraars om die wag by die lughawe vinnig te verwyl.

In hierdie episode kyk die Podlitiek-span na Eskom se nuwe hoof, André de Ruyter, Mmusi Maimane se gerugte nuwe politieke party asook die onstuimigheid by die Suid-Afrikaanse Lugdiens.

Hermann Pretorius lei die eerste besprekingspunt vir die episode in, naamlik die onlangse aanstelling van De Ruyter as die nuwe hoof van die sukkelende Eskom. Daar is groot optimisme oor De Ruyter se aanstelling, maar daar is steeds baie water wat onderdeur Eskom se brug moet vloei voordat ons met sekerheid kan sê dat die elektrisiteitsverskaffer op die herstelpad is. Eskom se grootste uitdaging bly steeds die fundamentele probleme wat hom in die gesig staar. Die invloed van ʼn staatsgesentreerde ideologie word deur die span bespreek en word geïdentifiseer as die onderliggende uitdaging wat Eskom het.

Die gesprek draai dan na die berugte politieke party wat Maimane moontlik wil stig. Daar is ʼn aantal huidige DA-lede wat in Maimane se kamp was wat na bewering saam met Maimane hierdie nuwe party sal stig. Ernst van Zyl wys daarop dat hierdie party sal sukkel gegewe die feit dat Suid-Afrika reeds ʼn oorvloed van politieke partye het, maar ook dat ons (ten spyte daarvan) nie ʼn besonderse verskeidenheid tussen die ideologie van die partye kan sien nie. Verder is Maimane se moontlike nuwe party se groot uitdaging die feit dat Maimane nie met enige noemenswaardige regeringsprestasie kom nie. Dít sal nie vertroue in die Suid-Afrikaanse kieser inboesem nie.

Die laaste onderwerp van die episode is die groot stakings wat die SAL die afgelope week getref het. Ten spyte van die feit dat hierdie stakings Suid-Afrika ʼn enorme verlies laat ly, mag dit dalk net die laaste strooi wees wat die kameel se rug breek. Daniël Eloff dui wys daarop dat selfs al beteken hierdie staking die einde van die SAL, beteken dit ongelukkig nie noodwendig die einde van ʼn staatsbeheerde lugredery is nie.

By Podlitiek lewer ons nie net die nuus nie, ons maak dit. Luister Podlitiek.

Die Podlitiek-span bestaan uit: Hermann Pretorius (IRV), Ernst van Zyl (AfriForum), Paul Maritz (Solidariteit) en Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.).

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Eskom ·

Andre de Ruyter gee weer hoop. Kan sommer sien daar gaan iets aan tussen daai twee ore. Voorspoed Andre.

Nick Putter ·

Ek wil nie sy werk vir al die geld in die wereld he nie. Bid vir hom.

Petro ·

As hy n boetie het, moet hy asb aangestel word ons waterbronne meer effektief te laat werk, Iemand wat die terme Instandhouding verstaan en uitvoer, Beurtkrag en Beurtwater werk nie meer so lekker saam nie, Volgende moet ons seker beurte maak om suurstof te gebruik,

Arak ·

Ek is van mening dat die gemiddelde ANC lid gelukkig is met die resultate van hulle party, en ek is bevrees ek Herman ly aan totale ontkenning of wensdenkery as hy glo dat die lede vir ‘n meer kapitalistiese stelsel staan. Dit is eenvoudig nie waar nie. Vir die ANC gaan alles oor beheer en hulle het reeds bykans totale beheer oor die samelewing. Wie beheer wat jy kan sê (k-woord)? Die regering. Wie beheer wat jy kan vertoon (ou vlag)? Die regering. Wie bepaal wat jy jou kind kan leer aangaande seks? Die regering. Die gedagte dat Cyril iets anders verteenwoordig is ook verdere psigose van die kommentator.

Neels ·

Jy’s reg. SA sal meer Marxisties word. Ons sal nog meer SOEs sien. Maak soos De Ruyter, “if you can’t fight them, join them.”

Bob Jan ·

Mnr. De Ruyter jy mag in die skip se masjien kamer werk en die perfekte werk doen; ongelukkig gaan die kaptein (lees cANCer) nog steeds teen die ysberg bots.

Alexz ·

Ek gaan hier ñ kat in die duiwehok ingooi.
As Telkom dit kon regkry, kan die ander staatsentiteite dit sekerlik ook regkry.
Voorspoed aan mnr De Ruiter.

Siener ·

Hoeveel mense gebruik nog Telkom se dienste? Telkom se baie groot kliente basis en inkomste is oornag vernietig deur swak bestuurs besluite. As so iets gebeur sal Eskom ook dieselfde kliente tal as Telkom hê. Dit gaan nag wees vir sommige mense sonder krag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.