Podlitiek: Demokrasie ingeperk, Mogoeng staan sterk en suksesvolle hofwerk

Opgestel deur die Podlitiek-span

Hoofregter Mogoeng Mogoeng. (Foto: Flickr/GovernmentZA)

Daniël Eloff, Ernst van Zyl en Paul Maritz kom hierdie week weer in hul virtuele ateljee bymekaar om die jongste nuusgebeure van die week te ontleed, te ondersoek, en sommer te ontnonsens. In dié week se episode bespreek hulle eers die demokrasie wat tans bedreig word, dan die uitsprake en optrede van hoofregter Mogoeng Mogoeng en laastens ’n opsomming van die belangrikste hofsake die afgelope ruk.

Die gesprek skop af met ’n lekker ontleding van die ANC-regering se obsessie met mag, wat veral tydens hierdie inperking duidelik sigbaar geword het. Die DA het die week begin deur ’n dokument aan die land bekend te stel wat, volgens hulle, ʼn plan is om die noodbeheerraad mag oor munisipaliteite te gee, wat natuurlik hierdie raad se uitvoerende – en moontlik onderdrukkende – mag, eksponensieel sal laat toeneem. Dit is die Podlitiek-span se mening, soos wat dit dikwels is, dat vryheid beskerm moet word, en dat veiligheid nooit ten koste van vryheid hoef te kom nie.

Volgende word hoofregter Mogoeng Mogoeng bespreek. Gewoonlik wanneer Podlitiek oor die land se hoofregter praat, is dit met hande in die hare en stemme wat hees geskree is, maar vandag is daar so tikkie respek in die paneel se stemme. Ná opmerkings ten gunste van Israel, en aanduidings dat hy ongelukkig is met die eensydige benadering tot die Israel-Palestina gesprek deur die Suid-Afrikaanse regering, het Mogoeng verder geweier om enigiets wat sy mond verlaat het, terug te trek, deur te stel dat hy almal liefhet, en niemand bo ’n ander wil stel nie.

Laastens word na die rits hofsake gekyk waarin die Suid-Afrikaanse owerhede hulself onlangs gedompel het. Sowel die goeie nuus dat kleuterskole wat in privaat besit is weer mag open as die uitspraak teen Unisa se voorgestelde taalbeleid word bespreek. Dit alles maak dit vir die Podlitiek-span net meer duidelik dat hierdie inperking se bestuur verdag en verfoeilik is.

Podlitiek lewer nie die nuus nie, hulle maak dit. Luister Podlitiek.

Die Podlitiek-span bestaan uit Hermann Pretorius (IRV), Ernst van Zyl (AfriForum), Paul Maritz (Solidariteit) en Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.).

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.