Opgestel deur die Podlitiek-span
Podlitiek is terug met die eerste episode vir 2020! Die span kyk in hierdie episode na die grootste nuus van die nuwe jaar – alles van die ANC se verjaardagkoek tot die groot verwikkelinge in die Midde-Ooste die afgelope twee weke.
Die ANC hou elke jaar sy bekende “8 Januarie-toespraak”, ʼn verjaardagtoespraak waartydens die feesviering met die beplanning vir die nuwe jaar aangebied word. Die besluit is geneem om in 2020 hierdie toespraak in Kimberley te hou, ʼn besluit wat die ANC moontlik ná dese effens berou.
Podlitiek bespreek met die tong aanvanklik in die kies, en dan sommer tussen die laggery deur hierdie narrespel van ʼn verjaardagviering, waar die koeke soos doodskiste ingedra is, en die skare kleiner was as dié van ʼn ordentlike skolerugbywedstryd.
In ʼn wending na meer belangrike sake kyk Podlitiek volgende na onderwys in Suid-Afrika. Met die veelbesproke rekord-slaagsyfer van 2019 spreek die paneel hulself daaroor uit dat hierdie syfers eintlik meer van ʼn bespotting as iets anders is. Die verskillende maniere waarop die regering sy mislukking in terme van sy opleidingstaak wegsteek word uitgewys, en die pad vorentoe word oorweeg.
ʼn Volgende storie waarby stilgestaan moet word, is die grondkwessie. Met pres. Cyril Ramaphosa se uitspraak dat die wysiging van artikel 25 teen die einde van die jaar afgehandel moet wees, wonder Podlitiek hardop waarheen nou. ʼn Kommerwekkende verwikkeling is dat die wetsvoorstel in praktyk ʼn ooreenkoms trek tussen buitelanders en wit Suid-Afrikaners, wat eintlik maar die regerende party se denkwyse bevestig, of ten minste, so glo party.
ʼn Vinnige blik word ook op die Midde-Ooste gegooi, met die verhouding tussen die VSA en Iran wat moontlik ʼn nuwe laagtepunt bereik het.
By Podlitiek lewer ons nie net die nuus nie, ons maak dit. Luister Podlitiek.
Die Podlitiek-span bestaan uit Hermann Pretorius (IRV), Ernst van Zyl (AfriForum), Paul Maritz (Solidariteit) en Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.).
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
9 Kommentare
Lyk nie of SAPS enigsins daar naby toegelaat word nie.
… onthou Hans die polisie dra gewere… en daar is net soveel koek… wie sou wen?
Is dit die SANW wat die koek dra?
So hulle vat die koek?
Ek verskil van die paneel oor die missiel aanval op die Irannees. Of hy sleg is of nie, is irrelevant, wat Amerika gedoen het is niks anders as laakbaar nie. Eerstens het Amerika homself die reg toe geëien om ‘n sluipmoord te pleeg en is boonop trots daarop. Wat van die ander mense wat ook dood is weens die aanval, waar is die geregtigheid teenoor hulle families? Beteken dit nou dat as Amerika nie van iemand hou nie, hulle hulself die reg kan toe-eien om iemand net te vermoor; sommer regter, jurie en laksman. Tweedens was die aanval gedoen op… Lees meer »