Podlitiek: Die Kapitalistiese Party, BLF en MTN

Steve Hofmeyr by Afrikaans is Groot. (Foto: Afrikaans is Groot/Facebook)

Opgestel deur die Podlitiek-span

In hierdie week het ons gesien hoe openbare vervoer die groot gelykmaker in Suid-Afrika is, toe pres. Cyril Ramaphosa se metrotrein in Pretoria laat was. Vir die volgende keer wat die president of jy (ons leser en luisteraar) vassit in die verkeer, bring Podlitiek hierdie week vir jou ʼn lekker episode wat fokus op die Suid-Afrikaanse Kapitalistiese Party (ZACP), die BLF en VF+ wat baklei en MTN wat Afrikaans is Groot vermy.

Die Suid-Afrikaanse Kapitalistiese Party is op 15 Maart 2019 deur tien belanghebbendes gestig. Hierdie party, met tien standpunte en beleidsposisies, is onder die embleem van ʼn pers bees van stapel gestuur. Die party bestaan grootliks uit bekende sosialemediagebruikers en -leiers. Daniel du Plessis spreek sy kommer uit oor hoe die party ʼn opdraande stryd het omdat dit so kort voor die verkiesings eers aktief geword het. Verder, alhoewel die party grootliks op sosiale media steun om kiesers te bereik, mag dit dalk nie genoeg wees nie. Daniël Eloff glo egter dat die party ʼn opwindende verwikkeling en rolspeler in Suid-Afrikaanse politiek is.

Die tweede besprekingspunt van die episode gaan oor die BLF wat amptelik as party by die Onafhanklike Verkiesingskommissie geregistreer het vir die 2019- nasionale verkiesing, ten spyte van die feit dat die party op grond van ras nie lidmaatskap toelaat vir wit Suid-Afrikaners nie. Die VF+ het in reaksie hierop beswaar gemaak teen die OVK se besluit om die BLF toe te laat om aan die verkiesing deel te neem.

Laastens bespreek die span die bohaai oor MTN se onttrekking as borg van Afrikaans is Groot oor Steve Hofmeyr se betrokkenheid daarby. Die span wys daarop hoe MTN vrylik kan besluit watter geleenthede hulle wil borg en by betrokke wees, maar dat hulle die gevolge van so ʼn besluit gaan dra.

Die episode sluit oudergewoonte af met ʼn paar positiewe stories wat die afgelope week in die nuus die was.

  • Sukkel jy om kop of stert uit te maak van die Suid-Afrikaanse politiek? Dan is Podlitiek die slypsteen wat jy nodig het om ʼn skerp en spitsvondige politieke mening te ontwikkel. Sit gerus die gesprek in die kommentaarafdeling voort, en onthou om Podlitiek op Iono.fm, YouTube en iTunes te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ons moet met gewete koop ·

Dis reeds omdat ons koop by maatskappye wat ons vertrap dat ons ons ekonomiese mag oordra na vyandiges.

Watnou ·

Laat alle Afrikaanse MTN verbruikers elke Maandag vir 12 ure hulle fone en data afskakel….

Michael ·

Wat nou Ek stem saam met jou. As ons dit moet doen. borg MTN. die hele AIG sonder die hulp van die ander borge

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.