Podlitiek: Die NGV as kwak­salwery, wat maak die DA, en Twitter se dubbelstan­daarde

Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid (Foto: ANA)

Opgestel deur die Podlitiek-span

In hierdie episode gesels die jong stemme van Daniël Eloff, Paul Maritz en Hermann Pretorius oor die afgelope ruk se aktuele nuusgebeure. Die drie gebeure waarop hierdie episode fokus is die Nasionale Gesondheidsversekering en vrae daaroor, die DA se huidige uitdagings – spesifiek die uitspraak in die De Lille hofsaak – en die manier waarop Rachel Kolisi, die vrou van Siya Kolisi, op Twitter hanteer is.

Op 21 Junie het dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, twee wetsontwerpe in die staatskoerant gepubliseer. Een het gehandel oor hoe mediese skemas se funksionering aangepas behoort te word, en die ander was die amptelike voorlegging van hoe die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) uitgerol gaan word van nou tot 2026. Alhoewel die sprekers begrip vir die probleem het, spreek hulle ʼn sterk opinie teen nóg sentralisering van mag uit.

Die paneel kyk dan na ʼn volgende saak: 2019. Die volgende nasionale verkiesing is minder as tien maande weg, en dit raak tyd vir ons om na ons politiese partye te kyk en te oorweeg hoe sterk hulle staan, en waarvoor hulle staan. Die DA, die amptelike opposisie in Suid-Afrika, doen volgens Daniël alles wat hulle kan om hul posisie te verswak. Paul voel dat die proseduriële foute wat die DA gemaak het, krakies begin wys, en dat daar onsekerheid is. Hermann vra of so ʼn party kan regeer, of vertrou kan word met ons stemme.

Derdens opper Daniël ʼn interessante gebeurtenis wat Twitter in die afgelope week opgelewer het. Nadat ʼn sosiale besprekingsprogram Siya Kolisi as ʼn tipe uitgedruk het waarna vroue behoort te streef, het laasgenoemde se vrou op Twitter haar opinie uitgespreek en gestel dat hy nie ʼn “tipe” is nie, maar ʼn man en ʼn pa. Paul en Hermann verskil oor hoe presies hierdie situasie gesien behoort te word, met Daniël wat stel dat dubbelstandaarde tussen mans en vrouens beslis na gekyk moet word.

Die program sluit af met ’n paar nuusgebeure wat oor die horison aankom, Daniël stel weer dat ons die openbare konsultasies met gemeenskappe oor grondonteiening sonder vergoeding fyn moet dophou, veral siende dat politici nou betrokke geraak het. Hermann glo dat die Zimbabwiese verkiesing ons aandag moet geniet, veral siende dat daar onlangs ʼn sluipmoordpoging in dié land was. Paul glo dat die Eskom-situasie weer spoed begin optel, omdat die nuutste aanbod van Eskom weer van die hand gewys is deur die vakbonde wat betrokke is.

As jy daarvan hou om te weet wat aangaan, en ʼn bietjie wil saamdink oor die toekoms, is podlitiek net die program vir jou!

  • Wil jy meer weet oor die aanbieders van Podlitiek en uitvind wat hulle beplan met die reeks podsendings? Luister gerus na hierdie klankgreep om meer hieroor uit te vind:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Albaster ·

Om koepons te gee vir gesondheidsorg is ‘n uitstekende idee. Die kos koepons sisteem het baie goed in Amerika gewerk. Die privaatsektor kan beslis laekoste mediese sorg gee as die geld aan hulle beskikbaargestel word in plaas van korrupte gesondheidsdept politici.

Adoons ·

Goeie debatte tussen hierdie jongelinge en goeie insig oor die NGV. Is die podcast op iTunes beskikbaar?

Daniël ·

Beste Adoons,

Soek gerus vir Podlitiek op iTunes. Dis beskikbaar opbeide Maroela Media en Podlitiek se rekeninge.

Dankie vir julle ondersteuning!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.