Podlitiek: Die NGV kort salf en Ramaphosa se eerste jaar en ʼn half

Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Opgestel deur die Podlitiek-span

Met die ontwikkeling van moderne media is daar sekerlik nie meer ʼn verskoning vir die moderne mens om sy ore met lukrake inhoud te vul nie. Deesdae se mense luister na wat hulle wil, wanneer hulle wil. Deesdae se mense luister Podlitiek.

Hierdie week vier ons, of betreur ons, die 18 maande sedert Cyril Ramaphosa se inhuldiging as president. In hierdie episode word daar gekyk na Ramaphosa se presidensie en waar hy misluk het en twee spesifieke gevalle waar hy goeie aanstellings gemaak het. Daar word ook gefokus op die betogings in Hongkong en wat dit in die breër geo-politiek vir die wêreld beteken.

In die eerste plek moet daar egter aandag gegee word aan die wegholsneltrein wat reguit op ons afvuur: die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV). Wat presies is hierdie “ding” wat ons gemeenskap so verdeel het? Kyk ons na ʼn Kubaanse model, waar die regering outokraat oor mediese dienste speel, of is hier dalk iets soos ʼn Britse “NHI” wat ons voorland gaan word? Dalk is dit ʼn perd van selfs nog ʼn ander kleur? Podlitiek dissekteer hierdie netelige kwessie.

Volgende word die oog opgegooi na die bopunt van Meintjieskop waar ʼn miljardêr skynbaar slegs twee emosionele toestande kan ervaar: uiterste skok of uitbundige vreugde. Die Podlitiek-luisteraar word hierdie week bederf met ʼn volledige bespreking, hoewel die term beoordeling dalk meer gepas is, van die presidensie van pres. Mathamela Cyril Ramaphosa. Hy wat die nuwe daeraad soos Apollo oor die horison moes kom trek, lyk al hoe meer vir sekere lede van die Podlitiek-paneel soos Hades wat siele na die onderwêreld lei. Maar dalk is ons pessimisties, dalk kyk ons met opset die suksesse mis? Jy as luisteraar kan saam met die vier Afrikaanse ruiters van die radiogolwe op die stoep sit en wonder oor hoe presies Meintjieskop se miljardêr tans vaar.

In die internasionale segment word daar vandeesweek ʼn oog na die Ooste gedraai, met die fokus op Hongkong. Hierdie florerende eiland gaan gebuk onder hewige proteste oor vryheid en voortbestaan midde in die mees uitgerekte oorgang tussen regerings waarvan Podlitiek al gehoor het.

Is jy moeg daarvoor om nie te kan saampraat om die braaivleisvuur nie? Podlitiek is die antwoord vir jou!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

christa ·

rahmaposa Luister Na Lutulie Huis Dis Hoekom Hy Nie n Besluit Kan Neem nie Hy word voorgeskryf . EN DIS NOU SUID AFRIKA EN SY MENSE WAT VAN BELANG IS NIE DIE ANC NIE

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.