Podlitiek: Die raskaart en Cyril se penarie

Julius Malema, die leier van die EFF. Foto: ANA.

In hierdie episode gesels Daniël Eloff, Hermann Pretorius en Paul Maritz oor verlede week se aktuele nuusgebeure. Onder meer bespreek hulle Malema se aanhitsing teen Suid-Afrikaanse Indiërs, Ashwin Willemse, Cyril Ramaphosa se ANC en 2019 se verkiesing.

Verlede week het Julius Malema gesê dat die meerderheid Indiërs rassisties is. Hierdie het gevolglik gelei tot baie bekendes wat aanstoot geneem het teen Malema se opmerkings. Alhoewel Malema al vir jare lank wit Suid-Afrikaners teiken met sy bombastiese politieke retoriek, is daar nou ʼn groter groep mense wat Malema kritiseer oor hierdie soort aanmerkings.

Hermann glo egter dat alhoewel rassisme, soos deur Malema verkondig, vir meeste mense sleg is, behoort rassistiese spraak nie gekriminaliseer te word nie. Suid-Afrikaanse wetgewing beskerm reeds voldoende teen haatspraak, maar die wetgewing word nie gelyk of regverdig toegepas nie.

Verder bespreek die drie Cyril Ramaphosa se groot skuif na links deur beleidsvoorstelle soos grondonteiening sonder vergoeding en die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV). Paul voorspel drie moontlikhede vir grondonteiening sonder vergoeding.

“Eerstens gaan ons sien dat artikel 25 nie verander kan word nie. Dit gaan beteken dat groepe soos die EFF en BLF na mnr. Ramaphosa gaan verwys as ʼn uitverkoper. Aan die anderkant, as hy artikel 25 sou verander soos voorgestel, kan dit ekonomiese wantroue in die internasionale sektor hê. Die derde opsie, wat ek dink waarskynlik is, dat mnr. Ramaphosa vir die kantlyn gaan skop en vir ʼn herevaluasie vra.”

Verder waarsku Hermann dat Cyril Ramaphosa in ʼn baie swak posisie in die ANC is, en dat mens nie daardie posisie se moontlike effek moet onderskat nie.

Die program sluit af met ʼn paar nuusgebeure wat ons kan dophou in die volgende paar weke. Eerstens begin die eerste openbare konsultasies met gemeenskappe oor grondonteiening sonder vergoeding. Hierdie proses blyk asof dit baie doelbewus grondeienaars uitsluit deur die ligging van die besprekings en die tye wanneer dit plaasvind. Tweedens, moet daar gekyk word na die NGV wat in werking tree en hoe dit die hele mediese sektor omver gaan werp. Laastens, bly die Eskom-situasie van belang vir ons hele land en moet dit met ʼn fyn oog dopgehou word.

  • Wil jy meer weet oor die aanbieders van Podlitiek en uitvind wat hulle beplan met die reeks podsendings? Luister gerus na hierdie klankgreep om meer hieroor uit te vind:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

humor ·

En die raskaart sowel as n paar grumoorde sal steeds prominent op die voorblaaie van koerante wees.

Jan ·

Ramaphosa of Rommelphosa? Dit is nou as ek na die gradering van die land verwys.

Kaufman ·

Dankie vir die inisiatief, ek sien uit om na die reeks te luister.

Daniël ·

Baie dankie Kaufman! Ons waardeer die positiewe terugvoer. Ons hoop om interessante en vermaaklike politieke kommentaar vir julle te verskaf.

Martin ·

Daniël, baie dankie vir die insiggewende en interessante gesprek. Ek vind dat meeste afrikaanse debatte en gesprekke onder geleerdes, my halfpad verloor deur die sprekers se oormatige gebruik van groot woorde. Ook die gebruik van terme wat die alledaagse afrikaans sprekende nie verstaan nie, maak dit onsettend moeilik om die gesprek te volg. Hier het julle die insig gehad om bietjie uit te brei oor politieke ideologie wat die luisteraar meer laat voel dat hy iets leer, i.p.v om onnosel te voel omdat hy nie die gesprek verstaan in sy eie moedertaal nie. Dankie daarvoor.

Marie Bredenkamp ·

Ek sien uit na enigiets wat ‘n mens kans gee om te besin oor die wát besig is om in ons land te gebeur – soveel te meer as dit jong, denkendes is wat ons ouer garde kan begelei in ‘n meer moderne siening!

Albaster ·

Dankie vir die lekker gesels. Ons het dringend geselsradio in Afrikaans nodig want die marxiste het geselsradio in ons land oorgevat.

Johannes ·

Dankie vir die lekker podcast! Ek waardeer jong mense wat standpunt inneem en goeie konserwatiewe politieke idees voorstaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.