Podlitiek: Die Venezuela-missie, sportkwotas en rommelroem

‘n Skermskoot uit die video van Binding wat die rommel by Kovsies na die EFF se protesaksie optel.

Opgestel deur die Podlitiek-span

Soos EFF-geaffilieerde studente op Kovsies die rommel stuk vir stuk uit die asblik haal en op die vloer strooi, bring die Podlitiek-span hierdie week Suid-Afrika se nasionale skandale een vir een na vore. Die span bespreek Ace Magashule en sy delegasie se besoek aan die beleërde Venezuela, die belaglikhede wat kop uitsteek rakende sportkwotas, en Eckhard Binding, die Kovsie wat die rommel stukkie vir stukkie weer terug in die asblik gegooi het.

Daniel du Plessis lei die episode in met die nuus dat die ANC die afgelope Saterdag ’n afvaardiging Venezuela toe gestuur het op ’n feitemissie. Dit is egter nie heeltemal duidelik hoe oop die ANC – onder leiding van Ace Magashule, ANC sekretaris-generaal – vir die ware feite sal wees nie. Dit is veral ontmoedigend om te sien dat Suid-Afrika homself belyn het met lande soos China en Rusland – nie juis toonbeelde van demokrasie en menseregte nie. Die span let wel op die feit dat hierdie ’n ANC-afvaardiging was – en nie een (amptelik) onder die vaandel van die regering nie.

Paul Maritz bespreek volgende die situasie rakende sportkwotas op skoolvlak. So erg as wat kwotastelsels in sport op ander gebiede kan wees, is dit besonder ontstellend om dit op skoolvlak te sien. Die SuidAfrikaanse Skoleatletiek (Sasa) het verlede maand bekendgemaak dat dit nou ʼn vereiste sal wees dat atlete van minderbevoorregte agtergronde in spanne ingesluit móét word – sonder oorweging van keuring volgens meriete. Hierdie kriteria (nou onttrek) was selfs van toepassing op graad een-leerders. Die span is totaal oorbluf deur hierdie vereiste en kom tot die gevolgtrekking dat die Suid-Afrikaanse transformasie-ideologie al hoe vreemder en selfs onsinnig raak.

Laastens lei Daniël Eloff ’n bespreking in oor Eckhard Binding. Hierdie student aan die Universiteit van die Vrystaat het onlangs internetroem verkry vanweë sy reaksie op EFF-geleide proteste op sy kampus. In ’n video wat soos ʼn veldbrand versprei het, sien jy duidelik hoe Binding geduldig die rommel (gestrooi deur protesteerders) weer in ’n asblik gooi – selfs terwyl verskeie persone in EFF-uitrustings dit keer op keer weer uitgooi. Die span vind Binding se benadering tot die situasie lofwaardig en uiters belangrik in ’n land soos Suid-Afrika, waar ons permanent in politieke stryde gewikkel is. Dalk is daar iets te leer uit hierdie nederige, dog vasberade vorm van verset?

  • Sukkel jy om kop of stert uit te maak van die Suid-Afrikaanse politiek? Dan is Podlitiek die slypsteen wat jy nodig het om ’n skerp en spitsvondige politieke mening te ontwikkel. Sit gerus die gesprek in die kommentaarafdeling voort, en onthou om Podlitiek op Iono.fm, YouTube en iTunes te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Afrikaner ·

Wat in Suid-Afrika is nié vreemd en onsinnig nie, dit nou sover dit die ANC aanbetref, o ja en die EFF.

Charles ·

Jy kan sien wie is opgevoed en wie nie. Gaan kyk maar by hierdie byeenkomste van al hierdie partye anc, eff, blfen nog meer, hoe dit lyk as hulle die perseel VERLAAT. Dan jy vir jou self dink.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.