Podlitiek: Die weermag verbied boerkas en Ramaphosa in die G20-kas

Pres. Cyril Ramaphosa aan die woord by die G20-beraad. (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Opgestel deur die Podlitiek-span

In ’n nuusweek wat oorheers is deur internasionale stories soos die G20 en president Donald Trump van die VSA se besoek aan Noord-Korea, gaan vind die Podlitiek-span die stories wat in die krake weggesteek en van die voorblaaie weggehou word.

’n Eerste blikkie word gegooi op Ace Magashule, ’n man wat al hoe meer voorkom asof hy die ewige stok in die speke van Suid-Afrika se groei word. In hierdie week se episode ondersoek Hermann, wat weer as gasaanbieder kom uithelp, die impak wat Magashule tot dusver in sy tyd as sekretaris-generaal van die ANC op die land gehad het.

’n Interessante ander onderwerp het onlangs kop uitgesteek, en dit is die Suid-Afrikaanse nasionale weermag se verbod op die dra van ’n boerka, die tradisionele damesdrag vir Moslems. Hierdie storie het onlangs aan die lig gekom toe ’n werknemer van die nasionale weermag, wat die meeste van haar tyd in laboratoria spandeer, verbied is om haar boerka te dra, omdat die reël stel dat slegs amptelike uniform gedra mag word. Die Podlitiek-span ondersoek die wisselwerking tussen vryheid en dissipline, met spesifieke verwysing na hierdie onderwerp.

Natuurlik moet ’n oomblik geskenk word aan die G20, waar president Cyril Ramaphosa met die wêreld se grootste leiers skouers geskuur het. Die Podlitiek-paneel verskil oor die belangrikheid van die G20-vergadering, met Daniël en Hermann wat daarvan oortuig is dat dit geldmors is, maar Paul voel dat sulke internasionale gesprekke van kernbelang vir wêreldvrede is.

Vir hul internasionale fokus kyk die span na die Demokratiese Party in die VSA se onlangse eerste debatte wat plaasgevind het. Watter kwessies is vir dié party belangrik, en is daar ’n kandidaat wat lyk asof hy of sy ’n kans staan teen die uiteindelike opponent, president Trump?

In die inligtingsera is dit soms moeilik om goeie en nuttelose inligting van mekaar te skei. Luister Podlitiek om nie net meer te weet nie, maar te weet wat saakmaak!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Leon ·

Die SANW en die vroue wat wil boerkas dra moet kyk na die Jordaniese weermag se vroue soldate se uniform. Dit is die oplossing endie lyk baie mooi.

piet piet ·

Ek stem dit begin so en later wil hulle kaalvoet werk toe gaan en tydens hulle muslim tradisies nie meer werk nie of miskien is die woord werk nie reg terwyl hulle by die werk moet ontspan nie meer wil ontspan nie.

Pietman ·

Ek val amper van my stoel af oor hierdie opmerking: “Is dit nie ‘n aanklag teen die transformasie van ons gemeenskap dat polisie en weermaguniforms nie ruimte laat vir getematiseerde, spesifieke, uniformagtige geloofsdrag nie?”

Regtig?! In ‘n sekulêre staat is daar mos nie plek vir ‘uniformagtige geloofsdrag’ in plaas van standaard uniforms nie? Lyk my ek is nie liberaal genoeg om die meningsvormers se argumente te volg nie want vir my klink dit gevaarlik naby aan snert.

Therese van Schalkwyk ·

Resensie:
Julle is PUIK! Interessante onderwerpe in suiwer Afrikaans.

Paul is doodreg oor die G20 se waarde. Gesels om ‘n tafel en saam op foto’s is tóg belangrik om die ys te breek, veral in hierdie dae van ongebalanseerde, ongeloofwaardige media verslaggewing.
Die goeie verhouding tussen Trump en Putin is, verblydend genoeg nog daar, ten spyte van die opstokers se beste pogings.
Net so belangrik is Donald Trump en Kim Jong Un se “hallo sê” op die grens.
Geen erkenning daarvoor word egter van die ‘demokratiese’ linkerkant verwag nie.

Daniël Eloff ·

Baie dankie vir die saam luister en saam ontnonsens Therese! Ons waardeer julle luisteraarskap.

Besoek gerus ons sosiale media blaaier vir meer inligting.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.