Podlitiek: Dokters kry dalk Vredeprys, Zuma met gebalde vuis

Opgestel deur die Podlitiek-span

Oudpres. Jacob Zuma. (Foto: Sandile Ndlovu/Pool)

Met benoemings soos die Black Lives Matter-beweging en die voormalige Amerikaanse president Donald Trump op die lys, is dit reeds duidelik dat die Nobelprys vir Vrede in 2021 ’n omstrede affêre gaan wees, maak nie saak hoe die saak uitdraai nie. Die Podlitiek-paneel wonder hardop oor die aard van hierdie prys, en die aard van die wenners. Is dit regtig die mees verdienstige wat daarmee wegstap, of is dit net maar nog ’n gewildheidskompetisie? Die benoeming van die peperduur Kubaanse dokters wat Suid-Afrika in 2020 moes kom “uithelp” met die hantering van die Covid-19-pandemie, maak die hele spul sommer nog meer lagwekkend.

Volgende aan die beurt is oudpres. Jacob Zuma wat, ironies genoeg, sy beurt probeer oorslaan – dit is nou sy beurt voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping. Zuma word deur baie aangetoon as die spilpunt van ’n magtige proses van staatskaping en korrupsie op industriële vlak, maar nou – tot absoluut niemand se skok nie – weier Msholozi (soos hy dikwels beskryf word) om te gaan getuig voor die kommissie wat staatskaping ondersoek. Hoe realisties is die idee van Zuma in boeie? Podlitiek is maar skepties…

Derdens kom ’n storie weer te voorskyn wat al heelwat tyd op Podlitiek se tafel spandeer het – onteiening sonder vergoeding. Uit ’n politieke oogpunt gesien, is die reg op eiendom in die Weste net so ’n paar stappies onder heilige grond, maar dit is juis grond, en alles anders, wat die ANC van sy landsburgers wil wegneem. Uit ’n finansiële oogpunt gesien, het onteiening sonder vergoeding histories katastrofiese gevolge gehad, en uit ’n regshoek beskou glo die Podlitiek-span dat hierdie ’n ramp is wat net wag om te gebeur. Luister gerus na hierdie week se Podlitiek!

Podlitiek lewer nie die nuus nie, hulle maak dit. Luister Podlitiek.

  • Die Podlitiek-span bestaan uit Hermann Pretorius (IRV), Ernst van Zyl (AfriForum), Paul Maritz (Solidariteit) en Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.).

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.