Podlitiek: EFF-rommel, die twiet oor e-tol en Nederland sê nee vir grondonteiening

e-tol

Argieffoto

Opgestel deur die Podlitiek-span

Soos wat skole en universiteite heropen, blyk dit vir die Podlitiek-span asof die Suid-Afrikaanse nuussiklus ook uit sy effense hibernasie ontwaak het en soos ’n honger beer die strate van Suid-Afrika op en af loop op soek na iets om te verorber. Gelukkig was daar hierdie afgelope week ’n paar werklik sappige stories, wat vertel en gesels nodig gehad het. Maar moenie vrees nie, Podlitiek-luisteraar, alle sappige stories word inderdaad in diepte bespreek.

Marianne Thamm van die Daily Maverick het in die afgelope week effens deur die EFF se rommel gegrou – en nee, dit is nie ’n metafoor vir topjoernalistiek nie, sy het werklik tussen die rommel van die rooies se hooggeplaastes gaan grou, op soek na iets om te vertel. Sy het afgekom op duur sjampanje en ander luukse goedere, nie dat ons werklik verbaas behoort te wees nie. Die punt is eerder hoe ons hieroor dink en voel. Is dit reg, wonder die paneel van Ernst, Paul, en Daniël, om mense se privaatheid op hierdie manier te skend? Selfs Podlitiek se paneel stem nie hieroor saam nie – soos wat die luisteraar sal uitvind.

Twitter is goed vir baie dinge, veral (skynbaar) as jy ’n ANC-hoë is en jou mening wil lug. In die afgelope week het David Makhura, die Gautengse premier, aangevoer dat daar nie plek vir e-tol in dié provinsie se toekoms is nie. Soos wat dit ’n goeie boontjieteller betaam, het Tito Mboweni, minister van finansies, hom heftig hieroor uitgespreek en gestel dat mense wat e-tol betaal, in goeie infrastruktuur belê en dit in die toekoms kan benut. So ’n debat is natuurlik interessant, maar om dit op Twitter te voer, is dalk effens informeel, of hoe sê ons paneel?

Nou ja, laastens is die Kaap weer Hollands. Goed, die Kaap is nie regtig weer Hollands nie, maar die Nederlandse tweede kamer (iets soos hul parlement), het in die afgelope week met ’n meerderheid teen die Suid-Afrikaanse regering se planne, om grond sonder vergoeding te onteien, gestem. Geopolitiek speel natuurlik ’n al groter rol in ons samelewing, namate lande nie meer soos eilandjies van hul eie beleid kan funksioneer en die buiteland kan ignoreer nie. Maar, is dit dan nie inmenging nie? Luister gerus hoe ons paneel hieroor voel.

Internasionale nuus kom oudergewoonte later in die episode aan die beurt, en hierdie week word Antifa, ’n Amerikaanse organisasie wat dit skynbaar ten doel het om fascisme teen te staan, bespreek. Hierdie groep se nuwe gewoonte om joernaliste aan te rand (en dit in die naam van vrede!), beland onder die Podlitiek-mikroskoop.

Is jy moeg daarvoor om nie te kan saampraat om die braaivleisvuur nie? Podlitiek is die antwoord vir jou!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

GP ·

Wat beteken dit nou eintlik dat Nederland se dat grond nie onteien mag word nie. Watter se het hulle nou eintlik? Dankbaar vir die uitspraak maar sien nie die doel daarin nie.

Kaptein ·

Wel een direkte doel is om voorbrand te maak vir die opskort van geld geskenke en sakebande.
Dis ook ‘n waarskuwing aan ons regering.
Wel gedaan Nederland!

Kaptein ·

Let daarop dat die ANC inderwaarheid vir die wêreld vertel dat ‘n klein kriminele kabaal ‘n hele ekonomie gaan vernietig ter wille van hul eie direkte persoonlike gewin.

Daniël Eloff ·

Ek dink dis belangrik om te noem dat die Nederlandse wetgewer nie in direkte woorde sê grond mag nie onteien word nie maar eerder dat hulle teen onteiening sonder vergoeding posisie neem.

Internasionale druk is ‘n besonderse belangrike beleids-hefboom om te gebruik. SA is nie ‘n eiland en geïsoleerd nie.

Laastens mag die uitspraak deur Nederland hopelik ‘n dominoe effek hê dat groter lande ook hierdie posisie neem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.