Podlitiek: Eskom oorlaai, Ramaphosa paai en DA sê SEB koebaai

gloeilamp-omgeval-krag-mag

Foto: Pixabay/Pexels.com

Opgestel deur die Podlitiek-span

Terwyl die land met beurtkrag stoei, kom Podlitiek om jou week op te helder. In hierdie week se episode plaas ons die kollig op die groot probleme by Eskom, Ramaphosa se planne om staatsdepartement en provinsies te verminder asook die DA wat terselfdetyd SEB as beleid groet – maar ook nie rêrig nie.

In hierdie week se episode word daar oudergewoonte met ʼn vergrootglas na die Suid-Afrikaanse politiek gekyk.

Die eerste onderwerp wat belig word, is, ironies genoeg, die alewige donkerte wat ons almal ervaar. En dit, natuurlik, te wyte aan die teleurstellende dienslewering van Eskom die afgelope week. Hoe kan dit moontlik wees dat ’n staatsbate wat eens die trots van Afrika was, nou (met 13 000 meer personeellede as in 2008) sukkel om dieselfde elektriese kapasiteit te verskaf? Die paneel spreek hul misnoeë hieroor uit.

Volgende word ’n draai gemaak by president Ramaphosa se plan om staatsdepartemente te sny en dalk self provinsies te verminder. Daniël Eloff spreek sy vrees uit dat hierdie skuiwe kan lei tot die vermindering van rekeningsvatbaarheid binne die regering, juis omdat die mag gesentreer word.  Die gesprek draai by magsverdeling, en die verskil tussen ’n klein regering en ’n gesentraliseerde regering.

Derdens kom die paneel by die DA se problematiese benadering tot SEB uit. Is die DA op die punt om SEB by die deur uit te skuif, of soek hulle gewoon na ’n ander manier om hierdie beleid te implementeer? Onlangse opmerkings deur Mmusi Maimane maak die Podlitiek-span skepties oor die DA se wil of vermoë om hierdie beleid intern te verwyder.

Vir die internasionale segment praat die Podlitiek-span oor die Demokrate-party in Amerika se Groen “New Deal” – met voorstelle soos die volle verwydering van fossielbrandstowwe binne tien jaar en ’n verbouing van basies alle huise in die land, is hierdie beleid radikaal en kontroversieel, om die minste te sê.

  • Sukkel jy om kop of stert uit te maak van die Suid-Afrikaanse politiek? Dan is Podlitiek die slypsteen wat jy nodig het om ’n skerp en spitsvondige politieke mening te ontwikkel. Sit gerus die gesprek in die kommentaarafdeling voort, en onthou om Podlitiek op Iono.fm, YouTube en iTunes te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ha Ha ·

Dankie kerels ek luister graag na julle partykeer sukkel ek met julle taalgebruik maar ek geniet elke episode. Dankie vir julle insig.

B ·

As jy Pumzile van Damme se twiets lees sal BEE net nog verder ingegrawe word met alleenlik ras as absolute volmag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.