Opgestel deur die Podlitiek-span
In vandeesweek se episode gesels die Podlitiek-span oor Eskom en beurtkrag, die taverne-tragedie in Oos-Londen, die laaste verslag van die Zondo-kommissie en Panyaza Lesufi wat die ANC se nuwe provinsiale voorsitter in Gauteng is.
Min mense sal stry dat Eskom se beplanning oor die afgelope twee dekades veel te wense laat, maar die jongste probleme is ten volle mensgemaak, met vakbonde wat nie net staak nie, maar ook vernietig.
ʼn Volgende storie van bespreking, waarvan die wêreld met hartseer kennis geneem het, is die jong mense wat die afgelope naweek dood is in ʼn taverne in Oos-Londen. Die Podlitiek-paneel oorweeg morele verval onder die jeug, en oorweeg die toestand van waardes en reg in Suid-Afrika.
Die paneel kyk ook samevattend na die Zondo-kommissie se verslag, en wonder vir die soveelste keer of daar werklik iets van hierdie skouspelagtige geldput gaan kom? Is hulle wat hoop vir ʼn paar inhegtenisnemings naïef, of is daar iemand in die Nasionale Vervolgingsgesag oor met genoeg ruggraat om ʼn paar groot sake aan te vat?
Laastens bespreek Podlitiek die pas afgelope verkiesingskonferensie van die ANC in Gauteng, sowel as die potensiële lot van ʼn sekere meneer Lesufi.
Luister Podlitiek vir hierdie en meer!
- Die Podlitiek-span bestaan uit Paul Maritz, Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.), Ernst van Zyl (AfriForum) en Frederik van Dyk.