Podlitiek: Floyd en VBS, selfdoen is bes en Pik Botha – ’n vinnige les

Julius Malema (regs), die EFF-leier, het op 16 Oktober sy adjunk, Floyd Shivambu (links), op ’n nuuskonferensie in Johannesburg verdedig. Foto: ANA.

Opgestel deur die Podlitiek-span

In vandeesweek se episode pak die Podlitiek-span oudergewoonte talle belaglikhede in die nuus aan – maar word darem verkwik deur ’n positiewe verwikkeling of twee.

Paul, soos dit ’n goeie teoloog betaam, wend hom na Suid-Afrika se eie Kain en Abel-verhaal – dié van Floyd en Brian Shivambu. Brian was weliswaar nou nie Floyd se oppasser nie, maar dit wil lyk asof hy sy befondser was; na bewering vir iets in die omgewing van R10 miljoen. Daniël Eloff is geskok deur die EFF se blatante dubbelstandaarde en oneerlikheid. Hoe is dit moontlik om korrupsie onder die ANC so te kritiseer, maar dan nie eers basiese stappe te neem om Shivambu te skors hangende ’n ondersoek nie? Daniel du Plessis is egter oortuig dat die EFF se gedrag presies strook met hul ideologie en filosofie. As jy jou hele politieke loopbaan daaraan wy om eiendomsreg af te takel, is dit seker ’n natuurlike progressie om dit ook nie vreeslik te ag in jou eie bedrywighede nie.

Die gesprek draai dan na die onlangse afsterwe van Pik Botha, gewese minister van buitelandse sake en ook minerale en energie. Daniël Eloff lei die gesprek in deur te beklemtoon dat hy nie soseer oor Botha as persoon wil praat nie, maar eerder oor die interessante manier waarop ons nou moet omgaan met die geskiedenis en met die politici wat daarvan deel uitmaak. Die span is nie almal eens oor Botha se nalatenskap nie, maar is dit eens dat die kwessie – veral op sosiale media – oormatig gepolariseer geraak het.

Die episode sluit af met ’n bietjie goeie nuus – Daniel du Plessis is baie beïndruk deur die bedrywighede van die Red eMalahleni Aksiegroep. Hierdie burgerlike organisasie is gestig na gelang van die ernstige gebreke in die munisipale bestuur van eMalahleni (voorheen bekend as Witbank). Dit is tekenend van iets wat, hopelik, ’n tendens in die Suid-Afrikaanse burgerlike lewe sal word – burgerlike organisasies wat uit gemeenskappe ontstaan om hul belange te dien.

Ter afsluiting kyk Podlitiek na enkele positiewe punte van die afgelope week se nuus. Daniel du Plessis is baie gelukkig om te merk dat meer as R100 000 ingesamel is vir die slagoffer van die Dros-verkragting – en sien dit as ’n wonderlike illustrasie van wat die samelewing uit eie inisiatief kan bereik. Daniël Eloff, op ’n soortgelyke noot, is baie bly om te let op The Reach Trust se werk in Stellenbosch, wat geld insamel om die leesvaardighede vir plaaslike kinders te verbeter. Laastens, merk Paul op dat die Pous hom oënskynlik weer na ’n meer tradisioneel katolieke posisie wend – onder meer ten opsigte van sy siening van aborsie.

  • Is jy onseker oor ons land se toekoms? Voel jy dalk oningelig oor politieke kwessies wat aan die orde van die dag is? Dan is Podlitiek die ideale instrument om jou opinie mee te slyp! Sit gerus die gesprek in die kommentaarafdeling voort, en onthou om Podlitiek op Iono.fm, YouTube en iTunes te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johan ·

Julle sê in die podsending dat Pik Botha ‘n manteldraaier was? Op grond waarvan sê julle so? Sy werk was om sy land te verteenwoordig en hy het dit goed gedoen. Ons moet ophou om ons Afrikaanse leiers af te breek.

H.A. ·

Johan lees Praag.co.za nou. Daar’s alles oor pik botha, in afrikaans.

Breytenbach ·

Die EFF en Floyd het hul bankstate beskikbaar gemaak om hulself te verontskuldig aan die plundering van VBS stropery. Die vraag is watter bankstate het hulle gebruik…..

Gollie ·

Regtig ek sal ook wil weet,hulle moet daardie bankstate goed ondersoek.

Danie ·

Julle gesprekke is altyd baie goed maar die episode is een van die beste wat ek nog gehoor het, julle is top en kan gerus dink om n aktualiteitsprogram op internetvideo te begin.

JAN ·

Lees Praag.co.za om die waarheid te ontdek.
Pik en sy organisasie het ons hele volk vermoor vir die tweede keer en volkome !!
Die manne maak geen geheim dat hulle glo Tsafendas was ‘n gesant van [hul] God.
Die Botha Burgeroorlog was nie grappies nie. Dit was ‘n realiteit. Dit was ‘n volmaakte teregstelling van ‘n volk 50 jaar gelede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.