Podlitiek: Gevegte in parlement, Discovery se present en eiendomsregte geskend

Opgestel deur die Podlitiek-span

LP’s pak mekaar in die Nasionale Vergadering

Podlitiek pak die week se nuusgebeure soos Owen Farrell aan, nie met skouers en sonder enige arms nie, maar eerder met harde direktheid terwyl ons steeds daarmee wegkom. In hierdie episode bespreek ons rusies in ons wetgewer, HUB besoldiging en die deurlopende debat oor grondonteiening.

Paul begin met die mees onlangse vuisgevegte wat in die parlement plaasgevind het. LP Andries Tlouama van Agang het die EFF aangevat oor sy eis dat wit mense nie die reg behoort te hê om in die wetgewer te praat nie – wat daarna gelei het tot ʼn gestoeiery tussen verskeie parlementslede. Nadat Paul gewys het op die feit dat ons politici hulle soos misdadigers gedra, het Daniel du Plessis daarop gewys dat daar deesdae ʼn redelike oorvleueling tussen misdadigers en politici is. Daniël Eloff reken dat gevegte soos dié nie noodwendig uniek is aan Suid-Afrika nie, en dat soortgelyke gevegte onlangs in Taiwan, Oekraïne en Kanada plaasgevind het. Die verskil is egter dat dit ongelukkig meer gereeld in Kaapstad as in die ander wetgewers te siene is.

Die gesprek draai na die nuutste storm in ʼn Twitter-koppie: Discovery het hierdie week aangekondig dat hul uitvoerende hoof (HUB), Adrian Gore, ongeveer R20 miljoen (voordele ingesluit) per jaar verdien. Daniel du Plessis sê dat mens in ag moet neem hoe mededingend hierdie veld van topbestuur is en dat klein marginale verskille en beter leierskap enorme winste of verlieste vir die maatskappy kan beteken. Dit is dus nie heeltemal binne die norm om hierdie tipe salarisse te sien nie – mits die HUB dienooreenkomstig presteer, natuurlik. Daniël Eloff herinner die span aan die vorige week se bespreking – dit is nie sommer sonder rede dat mediese versekering so duur in Suid-Afrika is nie. Behoorlike werking deur die vryemark word steeds grotendeels uitgesluit deur ʼn berg van regulasies, rade en reëls.

Die episode sluit af met ʼn vinnige kykie na die grondhervormingsproses. David Cameron, voormalige premier van Brittanje, het Suid-Afrikaners aangeraai het om vir president Ramaphosa te vertrou – eerder as om sosiale media te glo.

Die Podlitiek-span, wat grootliks positief is oor die voormalige inwoner van Downingstraat 10, spreek hul misnoeë ondubbelsinnig uit. Wat nog meer kommerwekkend is, is dat die parlementêre komitee, gelas met die hantering en deursien van die grondwetlike hersieningsproses, besluit het om slegs 400 van 780 000 kommentaarstukke deur die publiek ingestuur te oorweeg. ʼn Paar hofsake – en hopelik minstens ʼn vertraging van die proses – is te verwagte na dié besluit.

Soos dit Podlitiek se gewoonte is, sluit die episode af met ʼn paar positiewe nuusgebeure van die afgelope week. Daniel du Plessis noem dat die Matriek-eindeksamen einde se kant toe staan en hy wens jong luisteraars alle sterkte toe daarmee.

  • Is jy onseker oor ons land se toekoms? Voel jy dalk oningelig oor politieke kwessies wat aan die orde van die dag is? Dan is Podlitiek die ideale instrument om jou opinie mee te slyp! Sit gerus die gesprek in die kommentaarafdeling voort, en onthou om Podlitiek op Iono.fm, YouTube en iTunes te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

John ·

Miskien kan ons meer hoor oor die prez se preek voor die EU oor xenofobie terwyl hyself witmense in sy land van hul plase en uit hul eiendom wil verdryf. Indien Afrokane Oosterlinge se winkels stroop en vernietig is dit xenofobiese gedrag maar as Boere vermoor word is dit peanuts en om hul plase te vat regverdigbaar. Om nou die wet tov eiendomsreg te verander, maar beleggers vrye toegang en versekering van demokratiese regte te beloof, is ietwat oneties, of wat noem CR dit of is sy naam eintlik Pilatus?

christa ·

gaan CR van sy eiendomme oor gee vir verwoesting? Hy het mos etlike eiendomme waarop hy nie eers woon nie. Nee hy sal nog eerder self inpalm.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.