Podlitiek: Grondonteiening, die DA laat SEB verdwyn en Zanu PF se herverskyning

podlitiek-davies-ramaphosa-en-mabuza

Minister Rob Davies saam met pres. Cyril Ramaphosa en adjunkpres. David Mabuza. Foto: Verskaf.

Opgestel deur die Podlitiek-span

In hierdie week se episode gesels Podlitiek se twee gereelde aanbieders, Paul Maritz en Daniël Eloff, saam met gasaanbieder Daniel du Plessis oor drie sake wat swaar op Suid-Afrikaners se harte druk: Ons land, ons amptelike opposisie, en ons sukkelende bure.

Geen een kwessie is tans so op die oppervlak in Suid-Afrika soos grond nie. Die regerende party se besluit om die Grondwet te hersien of ten minste hersiening te oorweeg, het die politiese arena in Suid-Afrika omvergewerp om die minste te sê.  Daniël Eloff lei hierdie onderwerp in, en maak dit duidelik dat lande waar grondonteiening sonder vergoeding gedoen is, soos Meksiko en Brasilië hulself ’n ernstige ekonomiese knou toegedien het. Paul herinner ons aan die agtste gebod-beginsel en die feit dat onteiening sonder vergoeding niks anders is as diefstal nie.

Gasaanbieder Daniel du Plessis skud die byekorf dan so effens deur te kyk na die DA se aankondiging dat Swart Ekonomiese Bemagtiging nie gewerk het nie, en dat die party sy Federale Raad voortaan nie meer deur middel van SEB-beginsels gaan verkies nie. Die paneel bespreek dan hierdie onderwerp, en hoe hulle oor die DA dink. Waar presies staan die DA, hoe moet ons hierdie skuif beskou, is dit belangrik, en maak dit saak? Sou ’n mens kon sê dat die DA nog ’n vaste stel waardes of beginsels ondersteun? Die paneel dink saam hieroor, maar ook oor die ideologie van SEB.

Paul trek dan die kruisie langs ons volgende onderwerp: Ons liewe bure na die Noorde. Nadat die Zanu PF se Emmerson Mnangagwa verlede week as die president van Zimbabwe verkies is, het die opponerende MDC, onder leiding van Nelson Chamisa, met protes en hofaksie opgetree. Verskeie internasionale liggame het ook na vore gekom en die verkiesing as ongelyk uitgedruk. Met onlangse gerugte dat ses MDC-betogers verlede week doodgeskiet is, raak dit vir die Podlitiek-paneel duidelik dat alles in Zimbabwe nie pluis is nie. Vir seker ’n onderwerp wat fyn dopgehou moet word in die volgende paar weke. Daniël stel dan dat hy daarvan oortuig is dat meer mense gestem het as wat geregistreer was, en dat hy geen twyfel oor die ongeldigheid van die verkiesing het nie.

Oudergewoonte hoor ons watter stories die span in die komende week dophou.  Daniël Eloff hou die gerugte van ’n gepoogde sluipmoord op die leier van Venezuela dop, Paul kyk na die gerugte van pedofilie wat oor lede van die voormalige Nasionale Party die rondte doen, en Daniël du Plessis hou Rassie Erasmus se benadering tot kwotas op die rugbyveld.

Sit gerus die gesprek in die kommentaarafdeling voort, en onthou om Podlitiek op Iono.fm en iTunes te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Willem ·

Ek stem, grond is ‘n enorme probleem, massief. Termiete het in die afgelope paar weke ongesiens hulle in die grond onder die kombuis gevestig, toe ewe skielik gewaar ons gisteraand die boom van een van die kombuiskaste het groot gate in, dis weggevreet, op die betonblad onder lê net ‘n massa tot kleigevrete hout. Toe besef ons, die termiete het uit die grond onder die huis gekom, hulle deur baie klein krakies in die betonvloer gewurm en onder die kas se houtvloer tuis gemaak.

Paul ·

Nou vra ek, vandag is nasionale vrouedag gevier, maar in Suid-Afrika word nie alle vroue gelyk geag, swart vroue se dag, dis wat dit was, is dit nie ook verkeerd en rasisties nie? Ons sal nooit die son sien opkom as ons oë gedurig op die weste gerig is nie.

Daniel du Plessis ·

Ai, Willem, dis nou slegte nuus! Ons het ongelukkig nou nie heeltemal genoeg tyd in die episode gehad om in volle detail oor hierdie kwessie te praat nie – maar, moenie kommer nie, daar is altyd raad vir so iets!

Een maklike manier om die situasie darem tydelik te verlig is deur ‘n termiet-val te stel. Lê ‘n paar lae karton uit op die probleem-area. Termiete is baie lief vir die sellulose eet waaruit die karton bestaan – en dit kan heel maklik verwyder word. Vat dan die termiet-belaaide karton en brand dit buitekant. Hoewel hierdie beslis nie voldoende gaan wees om van jou termiet-probleem ontslae te raak nie, is dit ‘n effektiewe manier om minstens hul getalle elke slag met ‘n paar honderd te verminder.

Wanneer die groter massa van termiete verwyder is, is dit dalk nie ‘n slegte idee om gebruik te maak van meer gespesialiseerde anti-termiet produkte en ‘n bietjie borax nie. Die mees effektiewe manier om van die borax gebruik te maak sou wees om verskeie gifstasies (wat, weereens, bestaan uit ons ou staatmaker: karton) daarmee te belaai. Ander produkte kan gebruik word om van die kolonie self meer effektief ontslae te raak.

Bygesê, dit is in baie gevalle maar beter om jouself na die professionele insekbeheerders te wend – veral as daar redelik baie hout in jou huis se konstruksie gebruik is!

Willem ·

Dankie Daniël, ek waardeer.

Eerstens het ek die kommentaar geplaas om te mik na al die ander plae waarmee ons in die land opgekeep sit, nie net grond nie, lees maar so tussen die lyne van my skrywe deur, maar as dit nie vir die grond was nie het die termiete nie gepla nie. (Grondeise?) So waar is my probleem, die grond of die termiete? (die EFF?) Bly ons dan eerder weg van grond? Dis tog nie moontlik nie, want waarop moes my huis gebou word?

Terug by die realiteit, ek sukkel al vir maande en ons het al paar maal prof pesbestryders hier gehad. Die probleem is egter dat die omgewing is besmet, en as ek dit alleen bestry, maak dit nie ‘n vaal kol nie, net vir so ‘n tyd, die gras is stoppel en kaal kolle gevreet, soos ook met ander parasiete in die land. O, dan het ek nog nie eens van die sprinkaanplaag vertel nie.

Groetnis. (terloops, ons het die probleem werklik ondervind en dit is ‘n nagmerrie, die goed kan hulle deur die kleinste krakies in die beton na die kaste toe vind)
En dan is die boodskap ook, besef die grondeisers dat dit nie so maklik is nie, die probleme en peste kom daarmee saam, of jy nou wil boer of net daarop wil woon.

Flip Raath ·

Die waarheid kannie altyd ‘n deksel opgesit word nie.

Johan ·

As ons almal nou eerlik moet wees, dan moet ons erken dat 2019 se verkiesing bepalend gaan wees vir ons land. Indien daai verkiesing suid loop dan gaan ons Afrikaners maar noord moet loop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.