Podlitiek: Grondonteiening uitgepluis, die Unisa fopnuuspaleis en Cyril se ware kleure wys

landbou-trekker-oestyd

Ter illustrasie. Foto: Jed Owen/Unsplash.com

Opgestel deur die Podlitiek-span

Heelwat goeie dinge kom in dries, BLT (ham, slaaiblare en tamatie) op broodjies, blinde muise en die Podlitiek-span – selfs hierdie lys bewys dit. Oudergewoonte is die drie besprekingspunte van hierdie episode ook drieledig. Podlitiek bespreek die grondwetlike hersieningskomitee se amptelike verslag, fopnuus deur ʼn Unisa werknemer en Cyril Ramaphosa se Bosasa-skandaal.

Grondonteiening stroom deur die wetgewer en, met die ondenkbare byna onvermydelik, wonder talle Suid-Afrikaners wat hulle nou te doen staan. Daniel du Plessis wys daarop dat die grondwetlike hersieningskomitee se onlangse verslag (ter aanbeveling van die wysiging van artikel 25) ’n blote klug is. Die ANC het hierdie verslag se bevindings bepaal. Daniël Eloff bespreek die onreëlmatige wyse waarop geskrewe voorleggings hanteer is deur diensverskaffer Isilumko. Vir hom – en hopelik vir alle regdenkendes – is dit heeltemal onaanvaarbaar dat, vanuit die 600 000 geskrewe kommentaarstukke, slegs 400 in ag geneem is deur die komitee.

Op ’n ligter noot, bespreek die span die onlangse ontbloting van William Ramatseba as fopnuusbaasbrein. Ramatseba, ’n administratiewe beampte by Unisa, is eienaar van byna ’n dosyn fopnuuswebtuistes – elk vol sensasie en onwaarhede. Ná ’n vernuftige ondersoek deur Jean le Roux van News24, het hulle agter die kap van hierdie geheimsinnig byl gekom. Hierdie fopnuuswebtuistes het gereeld sosiale- en politieke spanning in die land uitgebuit (en vererger!) om reklame-inkomste te genereer. Daniel du Plessis beklemtoon hoe gevaarlik fopnuus is – veral in vandag se gekonnekteerde wêreld.

Die week se nuus sou vaal en vervelig wees sonder ons eerbare president, Cyril Ramaphosa – en so, dus ook Podlitiek. Paul Maritz is van mening dat daar veral twee redes is waarom Ramaphosa oor die afgelope week behoort te bloos. Eerstens die skandaal oor Bosasa en, tweedens, die vermeende goue handdruk wat Malusi Gigaba ontvang het. Dit blyk asof Ramaphosa eenvoudig ’n voortsetting is van alles wat tydens die Zuma-era met die ANC fout was. Sou dit verbasend wees as Ramaphosa maar net ’n produk was van die ANC-oond waarin hy gerys het? Onder die tafel en onderduimse politiek is steeds aan die orde van die dag – hierdie keer was sommige mense in die hoofstroom-media net verbaas.

Ter afsluiting bespreek die span twee positiewe verwikkelinge in die nuus. Eerstens die nuwe brug tussen Mosambiek en Suid-Afrika wat reistyd met vier uur gaan verminder. Dit is ook vir die span bemoedigend om Suid-Afrikaners se reaksie te sien op die nuus dat Discovery Bank se planne om 10% van sy aandele uitsluitlik aan swart kliënte te verskaf – hoewel dit nie duidelik is of dit moontlik sal wees om Discovery van hul planne te laat afsien nie, is daar taamlik stewige teenkanting, selfs oor rassegrense.

  • Is jy onseker oor ons land se toekoms? Voel jy dalk oningelig oor politieke kwessies wat aan die orde van die dag is? Dan is Podlitiek die ideale instrument om jou opinie mee te slyp! Sit gerus die gesprek in die kommentaarafdeling voort, en onthou om Podlitiek op Iono.fm, YouTube en iTunes te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Daan ·

Die eniste persson wat tronk toe is oor korupsie is Dr Allen Boesak want Swede het druk op die regering geplaas. Die res word net herotplooi.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.