Podlitiek: Haatspraakwet eers uitgesmyt, krieket SA teen almal in die kryt

Opgestel deur die Podlitiek-span

hof-hamer

Argieffoto

Ná ʼn propvol nuusweek is die Podlitiek-span terug met blitskommentaar oor die afgelope week se gebeure. Die episode sit die kruistog teen feitefoute en politieke korrektheid voort en gesels oor die appèlhof se haatspraakuitspraak, die warboel by Krieket Suid-Afrika (KSA) en die jongste verwikkelinge oor datapryse in Suid-Afrika.

In hul voorlaaste gewone episode van 2019 spring die Podlitiek-span weg met een van die mees opspraakwekkende stories van die week, miskien selfs van die jaar. Die sogenaamde haatspraakwet moet oorgeskryf word. Daniël bespreek hierdie saak vanuit ʼn regsoogpunt, en verduidelik waarom Vicky Momberg se saak nie noodwendig deur hierdie uitspraak geaffekteer word nie. ʼn Moet-luister as jy onseker is oor die verskil tussen haatspraak en crimen injuria.

Tweedens lig Paul die sluier oor die absolute harlekynespel wat tans binne die vier mure van Krieket Suid-Afrika afspeel. Nie net is daar onsekerheid oor wie voor gaan vat ten opsigte van spanbestuur vir die komende reeks teen Engeland wat eersdaags begin nie; daar is ook ʼn magdom ander probleme wat kop uitsteek. Podlitiek wonder hardop hoe dit moontlik was vir KSA om hulself in so ʼn posisie te kry dat hulle deur hul eie spelersvereniging en deur ʼn provinsiale unie gedagvaar is, en ʼn massiewe verlies getoon het. ʼn Lekker insetsel as jy êrens tussen lag en huil wil wees…

Die laaste plaaslike onderwerp is die Mededingingskommissie se uitspraak oor datapryse in Suid-Afrika. Podlitiek stem saam dat geen verbruiker uitgebuit moet word nie, maar wonder skepties wat op aarde reggekry sal word deur gratis data aan verbruikers te begin uitdeel. In soveel as wat hul pryse en die billikheid daarvan bespreek kan en moet word, kan weinig Suid-Afrikaners stry dat veral Vodacom, MTN, en Cell C massiewe vooruitgang in die gemiddelde landsburger se lewe beteken het.

By Podlitiek lewer ons nie net die nuus nie, ons maak dit. Luister Podlitiek.

Die Podlitiek-span bestaan uit Hermann Pretorius (IRV), Ernst van Zyl (AfriForum), Paul Maritz (Solidariteit) en Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.).

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.