Podlitiek: Habib dink hardop, Cradock bou self op

Opgestel deur die Podlitiek-span

Adam Habib. Foto: Wits/Facebook

In hierdie week se episode kyk die span na Adam Habib se Twitter-opstel oor die #FeesMustFall-beweging, die verspreiding van die nuwe koronavirus asook ’n Oos-Kaapse dorp wat hand in eie boesem steek en die dorp laat herleef.

Om op die voorblad van ’n koerant, of in die hoofstorie van ’n nuusblad ’n foto te sien van ’n studenteoptog of ’n brandende universiteitsgebou, is lankal nie meer vir Suid-Afrikaners vreemd nie. Wat egter vreemd is, is om ’n bestuurslid van ’n universiteit te hoor praat daaroor. Juis as gevolg van hierdie toedrag van sake besluit die Podlitiek-span – almal van hulle tot nog onlangs of tans steeds studente – om die opmerkings van Adam Habib, uittredende visiekanselier van Wits, te bespreek. Veral sy uitlatings oor die #FeesMustFall-optogte, en die besluite wat na afloop daarvan geneem is, is fassinerend.

Volgende word die gereedheid van Suid-Afrika om die nuwe koronavirus Covid-19 die hoof te bied, onder die loep geneem. Die Podlitiek-span hou homself nie voor as ’n span van mediese spesialiste nie, maar as polonie twee jaar gelede vir Suid-Afrika ’n skop in die maag kon gee, wonder die paneel hoe swaar ons getref gaan word deur iets so angswekkend soos Covid-19. Dit kom wel voor asof hierdie virus besig is om internasionaal goeie aandag te geniet – die paneel stel ondersoek in.

Laastens word daar gekyk na die positiewe skuiwe wat die plaasdorp van Cradock tans mee besig is. Dit kom voor asof al hoe meer gemeenskappe besef dat selfdoen die enigste manier is om iets gedoen te kry. Hierdie dorp het reeds in 2019 opspraak gemaak toe die gemeenskap besluit het om self te begin skoonmaak en regmaak. Podlitiek hoop dat hierdie golf oorspoel na die res van die land.

By Podlitiek lewer ons nie net die nuus nie, ons maak dit. Luister Podlitiek.

Die Podlitiek-span bestaan uit Hermann Pretorius (IRV), Ernst van Zyl (AfriForum), Paul Maritz (Solidariteit) en Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.).

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae