Podlitiek: Kampus-kommer, DA se ‘ANC-manifes’ en Kodwa-klagtes

Studente van die Durban-Universiteit vir Tegnologie neem Maandag deel aan ‘n protesoptog. Foto: Doctor Ngcobo/ANA

Opgestel deur die Podlitiek-span

Soos die Prediker sê, daar is ʼn tyd en ʼn plek vir alles. ‘n Tyd om af te breek, ‘n tyd om te bou, ‘n tyd om te huil en ‘n tyd om te lag. Vandag se episode van Podlitiek bring aan jou al die gebou en gebreek en gelag en gehuil van Suid-Afrika se politiek van hierdie afgelope week. Daniël, Paul en Daniel kyk hierdie week na die ontwrigtings op ons kampusse, die DA se 2019-verkiesingsmanifes en die beskuldigings teen die ANC-woordvoerder Zizi Kodwa.

Die gesprek skop af met die Durbanse Universiteit van Tegnologie. Hierdie beleërde universiteit is sedert die begin van Februarie op horings geneem deur studenteproteste, spesifiek oor die gehalte en beskikbaarheid van verblyf vir studente, maar ook uitstaande skuld wat studente verhoed om te registreer. Die Podlitiek-span bespreek die benadering wat tans gevolg word in Suid-Afrika: Skree totdat jy kry wat jy soek, en as dit nie werk nie, brand iets af. Is hierdie benadering werklik hoe Suid-Afrika vorentoe sal gaan?

Die volgende punt op die agenda is die DA-manifes, wat verlede week bekendgestel is. Waarom bemark die DA hulself nie as ʼn party wat goeie diens lewer en werk kan skep, soos in die Wes-Kaap nie? Waarom fokus hulle nie eerder op diversiteit en dienslewering nie? Die mees onlangse manifes maak duidelik dat die DA eintlik maar die ANC-beleid wil na-aap, dalk net in beter Engels, en oor ʼn effens stadiger tydlyn.

Die Podlitiek-span praat dan oor Zizi Kodwa, die voormalige woordvoerder van die ANC, wat gevra is om uit sy pos te bedank, terwyl ʼn ondersoek hangende is oor beweerde klagtes van verkragting teen hom. Die beskuldigings teen Kodwa is natuurlik ernstig, en moet in die mees ernstige lig beskou word, maar nietemin oorweeg die span wat die impak hiervan op die interne konflik binne die ANC is.

Vir hul internasionale afdeling bespreek die paneel Jussie Smollett, die Amerikaanse akteur wat daarvan beskuldig word dat hy twee mans betaal het om hom aan te val, en dit toe aan die media oorvertel het asof die aanval op hom met sy ras te make gehad het. Sien ons hier ʼn geval dat die aanvraag na rassisme baie groter is as die aanbod? Podlitiek voel so…

  • Sukkel jy om kop of stert uit te maak van die Suid-Afrikaanse politiek? Dan is Podlitiek die slypsteen wat jy nodig het om ʼn skerp en spitsvondige politieke mening te ontwikkel. Sit gerus die gesprek in die kommentaarafdeling voort, en onthou om Podlitiek op Iono.fm, YouTube en iTunes te volg.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.