Podlitiek: Koning dood, studente-nood en OB dalk uitgestoot

Opgestel deur die Podlitiek-span

Koning Goodwill Zwelithini (Foto: Nqobile Mbonambi/African News Agency/ANA)

So getrou soos beurtkrag is die Podlitiek-span hierdie week weer op hul pos. Vanuit hul eie kantore en huise kom die vier lede van Podlitiek se paneel by mekaar en ontnonsens die grootste nuusstories van die week. Podlitiek, die grootste Afrikaanse politieke podsending, bespreek hierdie week die dood van koning Goodwill Zwelithini, die protesoptogte op universiteitskampusse landwyd, en die hangende vrae oor die openbare beskermer, Busisisiwe Mkhwebane.

Die lewe en sterwe van koning Zwelithini van die Zoeloenasie kom eerste aan die beurt. Hoewel ʼn mens sekerlik vrae kan vra oor die koste wat die belastingbetaler aangaan in die onderhoud van koningshuise in Suid-Afrika, is daar geen twyfel nie dat koning Zwelithini ʼn kosbare vennoot oor sake van onteiening sonder vergoeding en kulturele regte was. Sy ampstyd van ʼn halwe eeu was vol hoogtepunte en uitdagings, en dit word vlugtig bespreek.

Volgende aan die beurt is dit die vlaag van studenteprotesaksies wat stadig maar seker kop optel aan staatsuniversiteite. Dit sou maklik wees om eensklaps te meld dat gratis onderrig ʼn onrealistiese droom is, maar dan sou ʼn mens vergeet dat hierdie belofte aan baie jong mense gemaak is, en dat hulle tans onder die aanname daarvan midde in ʼn stelsel is wat hulle nou uitlewer. Hierdie netelige kwessie word uitgepak.

Laastens word die lot van die openbare beskermer, sowel as die skeur wat dit tans in die ANC begin veroorsaak, bespreek. ʼn Volle 62 ANC lede, meer as 25% van al hulle LP’s, het geweier om ten gunste van ʼn ondersoek na die OB se bevoegdheid te stem. Kan hierdie krakie in die ANC se geledere vir mnre. Magashule en Kie. ʼn geleentheid bied?

Al hierdie stories en meer in hierdie week se Podlitiek. Podlitiek lewer nie die nuus nie, hulle maak dit. Luister Podlitiek.

  • Die Podlitiek-span bestaan uit Hermann Pretorius (IRV), Ernst van Zyl (AfriForum), Paul Maritz (Solidariteit) en Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.).

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.