Podlitiek: Kwarantyn uitgerek, nog onnodige besteding oopgevlek en Sanders onttrek

Opgestel deur die Podlitiek-span

(Foto: Henk Kruger/ANA)

Vir bewoners van planeet aarde sal die uitdrukking “ek ry maar met Jan Tuisbly se karretjie” ongelukkig vir die volgende paar jaar ʼn ongemaklike herinnering of twee inhou. Alhoewel hulle dit eintlik van die heel begin af voorspel het, was die Podlitiek-span nietemin redelik hartseer oor die nuus dat hulle mekaar eers weer in Meimaand van naderby sal kan aanskou.

Die verlenging van die afsonderingstydperk is juis die eerste storie wat Podlitiek vanuit die dieptes van hul onderskeie skuilplekke bespreek. Eers was dit 21 dae, nou is dit al 35, en gaan dit daar stop? Die twee kwessies wat natuurlik deurentyd, en ook deur Podlitiek opgeweeg moet word, is die vrae van gesondheid en ekonomie. Luidens verskeie nuusberigte en foto’s het verskeie kosverkopers langs die pad weer vandeesweek probeer om ʼn inkomste te genereer, maar hul produkte is gekonfiskeer. Na reg of nie, Podlitiek stel ondersoek in.

Ten spyte van die krisis waarin almal tans is, staan die Podlitiek-span verbysterd deur die kreatiewe vermoë wat Suid-Afrikaanse staatsamptenare steeds het om geld uit die gemeenskaplike pot te skep. Suid-Afrikaners moes net so voor Goeie Vrydag verneem dat ʼn tender van bykans R30 miljoen na bewering toegestaan is om 48 000 kombersies te koop, en dat die kombersies teen minimum van R350 per stuk gekoop is. Dit is duidelik dat iemand hier ʼn hele lot geld in die sak steek, skokkend, maar nie heeltemal onverwags nie.

Vir hul derde storie loer die Podlitiek-span na die VSA, waar die sosialis Bernie Sanders sy kandidatuur vir die Demokratiese Party se verkiesing van ʼn opponent vir pres. Donald Trump tot ʼn einde gebring het. Sanders het toegegee aan Joe Biden, wat nou na alle waarskynlikheid die Demokrate aan die einde van vanjaar sal verteenwoordig tydens hierdie verkiesing. Podlitiek wonder hardop of dit sinvol is om ʼn man wat hom so gereeld verspreek soos Biden teen ʼn orator soos Trump te laat debatteer, maar ook hieroor sal die tyd leer.

By Podlitiek lewer ons nie net die nuus nie, ons maak dit. Luister Podlitiek.

Die Podlitiek-span bestaan uit Hermann Pretorius (IRV), Ernst van Zyl (AfriForum), Paul Maritz (Solidariteit) en Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.).

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Die Wolf ·

Trump gaan vir Biden ore aansit. Jy kan die twee se intelllek nie vergelyk nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.