Opgestel deur die Podlitiek-span
Soos Sylvester Stallone in elke Rocky-fliek, is Podlitiek hierdie week terug vir nog ’n rondte in die ring. Hierdie week is Paul Maritz, Hermann Pretorius, en Ernst van Zyl agter die mikrofone, met die jongste plaaslike en internasionale nuus en kommentaar.
Gauteng is een van die hartlande van Afrika se ekonomie, met miljoene mense van oor die hele wêreld wat hier konsentreer, hoopvol dat daar ’n randjie of twee te make is. Dit is so jammer dat die provinsiale regering van hierdie hartland, onder leiding van David Makhura van die ANC, so sukkel met die mees basiese take.
Volgens die ANC se interne beleide moes die provinsiale kabinet ʼn 40%-verteenwoordiging van vroue gehad het – ’n kwota wat nie bereik is nie, en waaroor die ANC se vroueliga nou ontstoke is. Podlitiek stel die vraag of meriete in Suid-Afrika ooit weer van enige betekenis sal wees.
Dan volg die verhaal wat reeds vir maande Suid-Afrika se nuus domineer – die befondsing van president Cyril Ramaphosa se veldtog. Hierdie fonds, wat in ’n stadium oor ’n miljard rand sterk was, het selfs aan twee lede van die EFF R80 000 elk uitbetaal, sowel as aan verskeie lede van die media – skynbaar om guns in te win, alhoewel hierdie joernaliste nou meld dat dienste tog gelewer is. Die paneel wonder of pres. Cyril Ramaphosa se posisie al ooit so swak was. En wat sou gebeur as genoeg van sy kamerade teen hom draai?
’n Derde punt, wat direk hieruit vloei, is Suid-Afrika se finansiële stand van sake. Sou ons heeltemal platsak wees, mag die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) dalk bakhand genader word vir ’n geldjie. Die Suid-Afrikaanse regering weet egter dat so ’n stap drastiese implikasies sal hê, daarom is die plan in hierdie stadium dat die meer as ses triljoen rand (miljoen biljoen, m.a.w. 18 nulle) in pensioenfondse aangewend sal word om groei te stimuleer. Die gedagte van staatshande op ons hardverdiende rande laat Podlitiek ril.
Tragiese internasionale nuus kom hierdie week aan die beurt, as Podlitiek berig gee oor Isis en die Taliban se bloedige stryd om mag in Afghanistan, wat in die afgelope week nog tientalle slagoffers geëis het.
Is jy moeg daarvoor om nie te kan saampraat om die braaivleisvuur nie? Podlitiek is die antwoord vir jou!