Podlitiek: Lang inhuldigings en Zuma se beskuldigings

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: GCIS

Opgestel deur die Podlitiek-span

Na afloop van die inhuldiging van president Cyril Ramaphosa keer die Suid-Afrikaanse politieke siklus weer terug na normaal. Hierdie week ondersoek die Podlitiek-span met Ernst, Paul en Daniël juis hierdie inhuldiging, en ’n paar ander gebeure wat die afgelope week se nuus gedomineer het.

Suid-Afrikaners in die land se hoofstad het onlangs ervaar hoe paaie, veral om Loftus Versfeld, netjies opgeknap word en sommer ook skoon. Daarmee saam het daar verlede naweek ’n klomp vliegtuie laag oor die stad gevlieg en allerhande manewales in die lug uitgevoer het. Al hierdie toertjies en verbeterings was deel van die meer as R150 miljoen-inhuldiging van Suid-Afrika se staatspresident. Die Podlitiek-span oorweeg die meriete van sulke spandering in ’n land waar ekonomiese groei aansienlik laer is as bevolkingsgroei asook rekordvlakke van jeugwerkloosheid.

Die volgende besprekingspunt het ook te make met ’n staatspresident. Wel, nie meneer Ramaphosa nie, maar sy voorganger, oudpresident Zuma. Twaalf aanklagte van bedrog, een van rampokkery, twee van korrupsie en een van geldwassery (ten opsigte van meer as 780 bevraagtekende betalings van meer as R1,2 miljoen wat hy by sy finansiële adviseer, Schabir Shaik ontvang het) staar hom in die gesig. Zuma se regsverteenwoordigers probeer vervolging van hom stop, deur te argumenteer dat hy saam met Shaik vervolg moes word, meer as ’n dekade terug. Die span bespreek die toekoms van hierdie netelige en uitgerekte kwessie.

Die derde punt van bespreking is die onlangse bedanking van Jonathan Moakes, die DA se verkiesingshoof vir die pas afgelope verkiesing. Die DA se toekoms word sedert die verkiesing in alle erns oordink, met baie kommentators van binne en buite die party wat minder as rooskleurige evaluasies van die party se huidige beleidsrigting uitspreek.

Vir hul internasionale segment kyk die Podlitiek-span na Europa, spesifiek na Brittanje en die onlangse bedanking van hul eersteminister, Theresa May. Haar hantering van die Brexit-kwessie was volgens baie die rede vir haar ondergang, en haar groot verlies in steun.

Weet meer oor die wêreld rondom jou deur in te skakel vir hierdie spitsvondige, raakvatgesprek oor alles en nog wat in die Suid-Afrikaanse en internasionale politiek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

sweis ·

Na al die partytjies en inhuldiging het dit nou tyd geword om die diskriminasie teen minderhede aan te spreek dit is al vir 25 jaar lank wet en ons eis nou n datum vir die skrapping daarvan.

Inernasionale bewegings links en regs ·

As die linkse partye ‘n internasionale beweging het, kan regse partye ook susterspartye word en mekaar ondersteun.

Saint ·

Daar is geen aanduiding waar ek verder kan luister na Podlitiek.

Help my met ‘n adres of ander aanknopingspunt.

Ken ·

Is daar meer berigte daar as hier of is dit dieselfde? Sal gaaf wees as ek meer van julle kan hoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.