Podlitiek: Lekota oor verraad, konsentrasiekampe en nóg ’n DA-bord brand

Nóg ʼn reklamebord deur die DA het onder vandale deurgeloop. (Foto: Verskaf)

Opgestel deur die Podlitiek-span

Podlitiek, soos die kat, kom weer – met ’n lekker episode oor Terror Lekota se SONA-repliektoespraak, die Britse politikus Jacob Rees-Mogg se uitlatings oor konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog asook veldtogborde van die DA wat afgebrand is.

Op die debat ná afloop van die Staatsrede, het COPE se leier, die veteraan van Suid-Afrikaanse politiek, Terror Lekota, ’n direkte beskuldiging na die kant van President Cyril Ramaphosa gemik deur aan te voer dat Lekota en ander na Robbeneiland moes gaan, terwyl meneer Ramaphosa huis toe kon gaan, omdat hy na bewering saam met die destydse regering gewerk het. Die Podlitiek-span bespreek die tydsberekening van hierdie opmerking, asook die reaksie wat die president self en die EFF se leier, Julius Malema, getoon het.

Volgende op die Podlitiek-agenda is die onlangse vernietiging van ’n tweede reklamebord wat die DA opgesit het, en waarvan die inhoud ’n direkte aanval op die ANC is. Wat sê dit van die toestand van ons land se vryheid van uitdrukking as die amptelike opposisie se standpunte letterlik afgebrand word? ’n Verdere kwessie wat noemenswaardig is, is die DA se konstante behoefte om mense teen iets te mobiliseer, in stede daarvan dat hulle mense vir iets probeer mobiliseer.

Die gesprek draai dan na die verre verlede en verre Noorde. Jacob Rees-Mogg, ’n lid van die Britse Konserwatiewe Party, het onlangs die opmerking gemaak dat sterftes in konsentrasiekampe vergelykbaar is met die sterftes in die Skotse stad Glasgow in dieselfde tyd, en dat baie boervroue- en kinders na die kampe is vir hul eie veiligheid. Die Podlitiek-span is geensins op hul monde geval oor hierdie opmerking nie, en bespreek as ’n verdere punt hoe ’n mens van iemand moet verskil wat ’n opmerking maak wat jy as afskuwelik beskou.

Vir Internasionale politiek bly die span sommer in Brittanje, waar die nuus pas gebreek het dat verskeie ampsdraers uit die Arbeidersparty bedank het weens die sogenaamde anti-Semitisme in die party.

  • Sukkel jy om kop of stert uit te maak van die Suid-Afrikaanse politiek? Dan is Podlitiek die slypsteen wat jy nodig het om ’n skerp en spitsvondige politieke mening te ontwikkel. Sit gerus die gesprek in die kommentaarafdeling voort, en onthou om Podlitiek op Iono.fm, YouTube en iTunes te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lido Pellencin ·

Kan julle asb, julleself voorstel. Al wat ek kan uitmaak is dat een van julle se naam Paul is en die andereen Daniël.
Dit is baie interessant om na julle standpunte te luister, maar as julle nie omgee nie………..

Leon ·

Baie goeie waarneming van julle – dat die DA altyd mense probeer mobiliseer teen iets in plaas van vir iets. Daar is ‘n uitdrukking wat se ‘n mens vang vlieë met stroop nie met asyn nie. Dit mag dalk op die DA ook van toepassing wees.

Daniël Eloff ·

Beste Lido,

Dankie dat jy saam luister! Ons is bly jy geniet die program.

Ons sal moeite doen om bietjie te onderskei en duidelik te maak wie aan die woord is.

Net vir interessantheid, in hierdie episode was Paul Maritz en ek Daniël Eloff aan die woord gewees. Ons mede aanbieder Daniel du Plessis is gewoonlik ook saam in die ateljee maar kon ongelukkig dit nie hierdie week maak nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.