Podlitiek: Lesufi deel fopnuus, EFF sê ekskuus

Panyaza Lesufi. (Foto: Oupa Mokoena/African News Agency (ANA)

Opgestel deur die Podlitiek-span

In ’n week waartydens ’n nuwe kabinet aangekondig is, Gauteng LUR’e soos stoele rondgeskuif het, en groot hofuitsprake gemaak is, bring Podlitiek oudergewoonte aan die luisteraar ’n opsomming van ’n paar groot nuusgebeure, met relevante kommentaar daarby aangehaak. Hierdie week ondersoek die Podlitiek-span van Ernst, Paul en Daniël die kabinet, die EFF se verlies in die hof, en die rondskuiwery van Panyaza Lesufi.

Die ouers van Gautengse kinders sou gehoop het dat die Podlitiek-span praat oor die kommerwekkende terugkeer van Panyaza Lesufi, berugte oud- en nuwe LUR vir Onderwys in dié provinsie. Die kwessie ter tafel is egter ’n heel ander een. Lesufi het ’n skermskoot van ’n gedokterde gesprek op sosiale media versprei, wat die bestuurder van ’n motorhandelaar in die Oos-Rand by growwe rassisme sou impliseer. Selfs nadat die gesprek as vals bewys is, het Lesufi, wat homself as ’n antirassisme-vegter beskryf, dit steeds nie verwyder nie. Hy doen tans baie meer kwaad as goed – so voel die paneel.

Tweedens word daar vlugtig na die kabinet gekyk. ’n Totale kabinet van 64 lede (meer as 10% minder soos in die vorige kabinet van 72 lede) is onlangs deur pres. Cyril Ramaphosa uitgeroep. Met 28 ministers, 34 adjunkministers, sowel as hyself en sy berugte adjunkpresident, David Mabuza, is dié kabinet nog maar ’n opgeblase affêre, so meen die Podlitiek-paneel. Hou die volgende tien jaar nog skuiwe in? Hopelik, maar Ramaphosa is duidelik ook maar ’n slagoffer van die ANC, met ’n klomp faksies wat gelukkig gehou moet word.

Op plaaslike front is die derde besprekingspunt die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) se horribale hofrekord wat voortgaan. Dié party het oudminister Trevor Manuel van nepotisme beskuldig omdat ’n neef van hom aangestel is by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Manuel het ’n saak aanhangig gemaak, en uitspraak is in sy guns gelewer. Die Podlitiek-span beskou die EFF se kierankies wat ’n bietjie braai, sowel as ander probleme wat hierdie party onlangs oor hulself gebring het.

Op die internasionale front word Soedan ondersoek. Ná afloop van president Omar al-Basjir se verwydering meer as ’n jaar gelede, is ’n militêre raad aan bewind van sake in hierdie Afrikaland. Dit klink asof hierdie groep toenemend gewelddadig teenoor landsburgers begin optree – iets wat sonder twyfel ondersoek moet word!

Weet meer oor die wêreld om jou deur in te skakel vir hierdie spitsvondige, raakvatgesprek oor alles en nog wat in die Suid-Afrikaanse en internasionale politiek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.