Podlitiek: Lesufi, Malema en die misdaaddilemma

EFF-leier, Julius Malema. (Foto: Itumeleng English/ANA)

Opgestel deur die Podlitiek-span

As Podlitiek in 2019 twee skimme van die nuuswêreld moes aanwys, sou dit sonder enige twyfel menere Lesufi en Malema wees. Hierdie twee regeringsamptenare was weer vandeesweek in die nuus, en weer eens nie vir die mees spoggerige redes nie. Podlitiek pak die netelige kwessies oor hul doen en late asook ander stories sonder om doekies om te draai.

Paul Maritz, Ernst van Zyl en Daniël Eloff skuif weer oudergewoonte agter die mikrofoon in om ons die jongste nuus te bring. Hulle spring weg met die LUR vir Onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, se sosialemedia-aanval op Sol-Tech, die beroepsopleidingskollege van Solidariteit. Nie net het Lesufi hierdie onafhanklike Afrikaanse kollege se oprigting rassisties genoem nie, hy het dit met apartheid vergelyk, en dit terwyl die onderwysstelsel in sy provinsie ten beste gemengde welslae bereik.  Podlitiek kan nie anders as om mond uit te spoel nie.

Volgende kom sy edele, die sjampanjesosialis Julius Malema, aan die beurt. Tydens die roudiens van die voormalige president van Zimbabwe, Robert Mugabe, het dié parlementslid ’n foto van die oorledene geplaas, met die aanhaling langsaan dat die enigste goeie wit mens, ’n dooie wit mens is.  Die Podlitiek-paneel is natuurlik erg hieroor ontstoke, en die reaksie van instansies wat hier moet optree, wek groot teleurstelling. Nie net het dit die Menseregtekommissie langer as ’n week geneem om te besluit of hierdie optrede vervolg behoort te word nie, maar het Malema ook sy plasing verdedig. Die Podlitiek-span gee onomwonde hul mening.

Laastens word daar met ’n somber oog na die misdaadstatistiek gekyk. Die jongste syfers is verlede week bekendgemaak en dit lyk, helaas, nie goed nie. Net die bendeverwante moorde in die Wes-Kaap is alreeds bykans drie per dag, en dit kom voor asof die regering nie net die stryd teen misdaad verloor nie, maar in werklikheid asof hulle verneder word, en geen beheer oor die situasie het nie.

Podlitiek en nuus is soos sosialiste en duur skoene – jy vind die twee meestal saam. Doen dit. Luister Podlitiek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Viv ·

Wat is nou HAAT spraak, malema se plasing van n goeie witmens is n dooie witmens of die OU LANDSVLAG.?

JohanL ·

Ons gewone intelligente landsburgers met gesonde verstand se opinie daaroor, is blykbaar verkeerd. Die mislukte entiteite soos die gelykheidshof en die mrk se polities gedrewe en skewe norme en standaarde, sal dit duidelik uiteensit dat selfs ‘n skewe kyk deur ‘n Blanke, haatspraak is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.