Podlitiek: Lesufi se foefie, Mandelabaai verraai en die grondberaad-verraad

Adjunkpresident David Mabuza by die grondberaad in Limpopo wat deur Agri SA en Landbouweekblad aangebied word. Foto: Verskaf

Opgestel deur die Podlitiek-span

Podlitiek-luisteraars het oor die afgelope maande gewoond geraak aan vurige gesprekke ten gunste van individuele vryheid, die mag van gemeenskappe, en minder mag aan die regering. Hierdie week se episode trek dié vryheidswa oudergewoonte deur ons liewe land se verdiepende sosialisme-drif deur te kyk na onderwys, munisipaliteite, en grond.

Paul begin die gesprek deur Panyaza Lesufi, LUR vir basiese onderwys in Gauteng, se opmerkings op ’n onlangse vergadering in Pretoria te bespreek. Deur aan homself die mag te probeer gee om te besluit wanneer ’n skool vol is, en hoe groot die voedingsgebied is, is meneer Lesufi besig om die bloedneus wat hy met die Overvaal-saak kan kry, te probeer stop. Dit is ook duidelik dat hy skole in Gauteng gereed wil maak vir radikale transformasie. Die paneel oorweeg ook geagte heer Lesufi se toekomstige politiese ambisie en die rol daarvan in hierdie optrede…

Daniël Eloff trek die gesprek na die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit se onlangse narrespel, waartydens ’n UDM-lid verkies is om Athol Trollip van die DA as burgemeester te vervang. Wat interessant is en in die volgende weke dopgehou moet word, is dat daar nie ’n kworum teenwoordig was nie. Wat skrikwekkend is, is die EFF se openlike stelling dat een van die grootste faktore wat teen meneer Trollip getel het, sy velkleur was. Sien ons hier ’n openlike politiese skuif op grond van ras?

Daniël du Plessis lig die sluier oor die grondkwessie. Hoewel adjunkpresident David Mabuza klaarblyklik heel gaaf en mooi gepraat het by die onlangse grondberaad, is die hele trant steeds om boere aanspreeklik te hou vir ’n tekort aan transformasie in die landbousektor. Die paneel is dit eens dat die vryemark die beste manier is om grond te hervorm, en dat slegs die vryemark werklik armoede kan verwyder – dit natuurlik direk in teenstand met die marxisme wat veral die EFF nou voorstaan. Die gedagte dat gelykheid verkry sal word deur almal ewe arm te maak, word dan deeglik gekritiseer.

Die onlangse nuwe insetsel – die Twitter-trit van die week, word voortgesit. Die Suid-Afrikaanse regering se eie Twitter-rekening wen hierdie week die prys, deur aan die Amerikaanse president Donald Trump te stel dat grondhervorming in Suid-Afrika die mense nie sal verdeel nie… Nou ja, niemand is so blind soos hy wat nie wil sien nie, nè?

Hierdie maand se luisteraarkompetisie word met trots geborg deur Buffelsfontein Baard-olie. Luister gerus na die episode om te hoor hoe jy die prys kan wen!

Is jy onseker oor ons land se toekoms, voel jy dalk oningelig oor politiese kwessies wat aan die orde van die dag is? Dan is Podlitiek die ideale instrument om jou opinie mee te slyp! Sit gerus die gesprek in die kommentaarafdeling voort, en onthou om Podlitiek op Iono.fm, YouTube en iTunes te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Albaster ·

So wat nou in PE? Gaan die nuwe selfaangestelde urgermeester nou oorvat?

Barry H ·

My hoop is dat die wêreld ‘n bietjie deur die EFF begin sien, hulle is niks meer as ‘n kanker nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.