Podlitiek: LP’s kry ‘swaar’, Clover vlug-gevaar

Opgestel deur die Podlitiek-span

(Foto: GCIS)

Podlitiek is terug en hierdie week is Hermann Pretorius, Ernst van Zyl en Paul Maritz in die virtuele ateljee, met drie stories en meegaande analises wat jou as luisteraar aan die dink en aan die praat sal kry.

Eerste aan die beurt is die onlangse uitsprake deur president Cyril Ramaphosa dat parlementslede swaar kry, en nie op hul huidige salarisse al hul uitgawes kan dek nie. Terwyl baie Suid-Afrikaners in ongeloof na hierdie uitsprake geluister het, het Podlitiek gaan delf, en uitgevind wat die salarisse van LP’s en ministers is – en die enigste slotsom is dat die beplanning van die bepaalde LP’s wat nie met hul salarisse uitkom nie, horribaal moet wees.

Volgende aan die beurt is die nuus dat Clover, die land se grootste kaasfabriek, van Lichtenburg af skuif na KwaZulu-Natal. Indien so ’n skuif werklik om besigheids- of markgeoriënteerde redes plaasgevind het, sou dit vir Podlitiek een ding wees; die probleem is egter dat die rede hiervoor gewoon swak dienslewering deur die betrokke ANC-munisipaliteit is. Ontoereikende water- en elektrisiteitsdienste is die rede dat bykans 330 mense nou hul poste kwyt is, en Podlitiek vra: Hoe lank moet die geween en gekners van tande aangaan?

Die laaste storie wat bespreek word, is die Mededingingskommissie se besluit om Grand Parade Investments te verbied om hul aandeel in Burger King Suid-Afrika te verkoop. Die rede is dat die nuwe belegger nie die korrekte rasseprofiel het nie, maar die aanslaaneffek hiervan is massief. Die Suid-Afrikaners wat tans die aandele het en dit nie mag verkoop nie, word nou aktief verbied om self te besluit hoe hulle hul eie geld wil belê en spandeer, wat sekerlik die teenoorgestelde regkry as wat dit wou.

Al hierdie stories en meer in hierdie week se Podlitiek.

Podlitiek lewer nie die nuus nie, hulle maak dit. Luister Podlitiek.

  • Die Podlitiek-span bestaan uit Hermann Pretorius (IRV), Ernst van Zyl (AfriForum), Paul Maritz (Solidariteit) en Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.).

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Moedeloos ·

Nou wat moet ek sê van my kleingeld salaris teen hulle sin. Ek moes afskaal en hulle moet maar ook afskaal.

marius ·

Die belasting betalers moet besef dat whiskey al R3000.00 per botel kos . Teen 14 bottels per week gaan dit maar broek skeur …

Suzette ·

Werklik? Wat ‘n klomp bog! Meeste van die LPs doen nie eens hul werk nie en word ‘n groot salaris betaal vir niks doen. Shame nou gaan hulle “swaar” kry.

Aikie ·

Ons moet ook onthou dat pres Ramaphosa die goewerment se salarisverhogings vir die afsienbare tyd gestop het. Dalk gaan hulle ook nou toi-toi.

Aikie ·

Betreffende die LP’s wat swaarkry met hulle salarisse, betaal my R1 miljoen per maand en binne drie maande is ek gewoond aan my salaris. Binne ‘n paar jaar gaan dit ontoereikend wees.
Die grootste probleem is om weer af te skaal. Die verlaging van jou standaarde is uiters moeilik, vra my, ek weet want ek moes dit doen. Jy dink net jy is nou weer “veilig” op’ n plato, dan slaan die volgende kweshou jou en jy moet weer kyk na jou finansies.

Anoniem ·

Die poppe gaan nou behoorlik dans in die Polisie. Hoed het gister aangekondig dat daar geen salaris verhogings vir Polisie Offisiere vir die volgende 3 jaar gaan wees nie.

boetieboude ·

Manie, polisie offisiere kry goeie salarisse. ‘n Kaptein is die “jongste” rang in die SAPD en afhangende van jou aftrekkings kry hul tot R25 000,00 per maand in die sak. So gee eerder vir die laer range en burgerlikes verhogings – hulle verdien dit eintlik meer, want doen dieselfde werk as die sogenaame “permanete” lede wat in kantoorposte sit.

Anoniem ·

Stem saam met jou, voetsool vlak word te min betaal vir die werk wat hulle doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.