Podlitiek: Malema wil ekonomie skaad, Shaik vrygelaat en protes in VSA

EFF-leier Julius Malema. (Foto: EFF/Twitter)

Opgestel deur die Podlitiek-span

Die Podlitiek-span is hierdie week terug met nog ʼn episode vol van “ontnonsens”, die term waarmee hulle hul eie benadering beskryf. Suid-Afrika gaan gebuk onder moeilike tye, en nog moeiliker politici, en in so ʼn tyd is dit nodig om leiers aan die kaak te stel, of met hulle die draak te steek, en selfs van tyd tot tyd die aap uit die mou te laat. Omdat hulle beter is met analise as met metafore, besluit die span om hierdie week in te zoem op Julius Malema se opmerkings oor die ekonomie, Schabir Shaik se vrylating, en die protes wat die VSA tans ruk.

Benewens dié van die span wat bestaan uit Paul, Daniel, Hermann en Ernst, is die twee name wat die meeste op Podlitiek genoem word, dié van Julius Malema en Cyril Ramaphosa, nie as gevolg van Podlitiek se bewondering van hierdie politici nie, maar as gevolg van hul gedurige nuusmakery, en meestal nie in die goeie sin van die woord nie. Vandeesweek was dit die beurt van Julius Malema, of Kidi Amin soos Flip Buys van die Solidariteit Beweging hom graag noem, om haatlike en negatiewe opmerkings te maak oor die voordele van die sukkelende Suid-Afrikaanse ekonomie.  Sy opmerkings was gemik op sogenaamde wit kapitaal, wat na sy mening gerus maar kan val. Podlitiek stem weer eens nie saam met Malema nie.

(Argieffoto.)

ʼn Volgende storie wat bespreek word, is die vrylating van Schabir Shaik. Hoewel die vrylating self ʼn konteks en ʼn agtergrond het wat belangrik is, pla dit die Podlitiek-span veel meer dat nog ʼn kader, nog ʼn vriend van die ANC-heersersklas anders behandel word as die man op straat. Dit is sekerlik, so meen hulle, nie reg nie. Dit kan sekerlik, so hoop hulle, nie voortgaan nie.

Met ʼn ogie na die buiteland gedraai bespreek die Podlitiek-span die gebeure in die VSA waar die dood van George Floyd terwyl hy in hegtenis was, gelei het tot nog ʼn golf van protes en gewelddadige optogte. Hierdie saak word van alle kante bekyk en veral met ʼn bietjie balans, wat uiters nodig is.

Podlitiek lewer nie die nuus nie, hulle maak dit. Luister Podlitiek.

Die Podlitiek-span bestaan uit:

  • Hermann Pretorius (IRV)
  • Ernst van Zyl (AfriForum)
  • Paul Maritz (Solidariteit)
  • Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.)

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JohanR ·

Kan iemand se waar Malema was vanaf die 26de Maart? Hy het geskitter in sy afwesigheid! Maar net geinterseerd as ‘n kamera sy kant toe wys, en omdat ons al vir tien weke toe gesluit is, en hy nie ingespan is by die NCCC nie, het niemand nou al vir tien weke ‘n kamera sy kant toe geswaai nie. Die DA, VF+, AfriForum, Solidariteit ens, het darem nog ‘n oogie gehou oor ons konstitusie met die doen en late van die ANC en die NCCC, maar die EFF….waar was hulle?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.