Podlitiek: Mashaba wil terug, IMF sien nie lig en Beloftebos dryf wig

Opgestel deur die Podlitiek-span

Herman Mashaba, oudburgemeester van Johannesburg en nou ook leier van The People’s Dialogue. (Foto: Twitter)

Die Podlitiek-span kyk hierdie week na Herman Mashaba wat soos ʼn feniks ʼn politieke loopbaan probeer herbou, die IMF wat swak ekonomiese groei vir Suid-Afrika voorspel, asook die groot oproer oor ʼn trouvenue in die Kaap wat weier om ʼn gay paartjie daar te laat trou.

Met Ernst, Daniël en Paul agter die mikrofone spring Podlitiek weg deur te kyk na die sakeman en politikus Herman Mashaba se nuutste politieke skuif. Alhoewel Mashaba in die verlede ʼn liefde vir die vrye mark getoon het, wil dit al hoe meer voorkom asof die voormalige burgemeester van Johannesburg, tesame met voormalige DA-leier Mmusi Maimane, ʼn meer sosiaal-demokratiese party daar wil stel. Podlitiek wonder onder mekaar of daar nog ruimte in die Suid-Afrikaanse politiek is, en watter stemme Mashaba en Maimane moontlik in hul visier het.

ʼn Volgende storie waarby stilgehou word, is die slegte, maar nie onvoorspelbare, nuus dat die Internasionale Monetêre Fonds vandeesweek besluit het om Suid-Afrika se groeivooruitsig vir 2020 af te skaal na 0,8% toe – dit nadat dieselfde liggaam aan die einde van 2019 voorspel het dat Suid-Afrika moontlik tot 1,1% groei in 2020 kan sien. Met bevolkingsgroei wat aansienlik vinniger plaasvind as ekonomiese groei, wonder Podlitiek waarheen nou vir ons geliefde moederland…

Laastens word gekyk na die nuus oor die Beloftebos-trouvenue, wat voet by stuk hou dat hul geen homoseksuele huwelike toelaat nie. Vir die Podlitiek-span bied hierdie nuusbrokkie ʼn gulde geleentheid om hul etiese hoedjies aan te trek en te oorweeg wat die regte optrede van die onderskeie rolspelers in hierdie situasie is. Moet ons maar net die markkragte toelaat om te bepaal watter organisasies oorleef, of behoort groter liggame oor die mag te beskik om organisasies in ʼn ideologiese rigting te druk?

By Podlitiek lewer ons nie net die nuus nie, ons maak dit. Luister Podlitiek.

Die Podlitiek-span bestaan uit Hermann Pretorius (IRV), Ernst van Zyl (AfriForum), Paul Maritz (Solidariteit) en Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.).

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johan Venter ·

Ook maar lugtig om julle uit te laat en standpunt in te neem oor die ‘bos’troue, versigtig getrap en daar hang dit in die lug.

As hulle my kerk se dominee sou genader het, het hy nou erge probleme gehad, dan was hy nie net in die hondehoekie nie, nee dit sou weer voorblaaie gehaal het.

Sic? ·

Jou organisasie se beleid is jou en jou ds se beleid . WRK ook . Who pays the piper ….Meer van die’ variasie bos en daar gaan geen bevolkingsgroei wees nie in ieder geval .

Johan Venter ·

Aljander, aljander so deur die bos!
My ma en pa maak lekker kos.
Die kinders verstik aan ‘n druiwetros.
Die laaste een se kop word afgekap!

Johan Venter ·

Sit my op die brandstapel, lees Die Heks van CLL, maar daar is nie manier hoe ek van my vlees verander nie.

Chris ·

“Of behoort groter liggame oor die mag te beskik om organisasies in ‘n ideologiese rigting te druk”?Watter groter liggame met watter ondersteuningsbasis of outoriteit?
Hoofstroommedia wat meningsvormers wil (of moet?) wees ipv.om feitelike inligting weer te gee en om ondersoekende joernalistiek toe te pas ?Is dit nou korporatiewe demokrasie?

Aandagsoekers ·

Beste ding wat die homoseksuele entiteite kan doen is om plekke waar hulle nie welkom is nie, te boikot…..
Elkeen bly dan net verantwoordelik vir sy eie ideologie/ lewensbeskouïng en niemand dwing sy siening in enige iemand se keel af nie. Wil jy regtig hê ‘n instansie wat ‘n weersin het in jou leefwyse moet jou belangrikste dag beplan?
Tereg soos gesê is, gaan jy as Christen mos nie in ‘n moskee of tempel probeer trou nie. Niemand wil tog soos ‘n molslang in ‘n hoenderhok voel nie?

Johan Venter ·

Die wat nie weet wat die verskil tussen ‘n man en ‘n vrou is nie, kan gerus die biologie boeke raadpleeg.

De Villiers Hauptfleisch ·

Ek het niks teen gays nie. Trouens ek dink die meeste van hulle is oulike, interessante en talentvolle mense. Maar hoekom nou `n ding daarvan maak as `n sekere instansie jou nie wil trou nie, As so iets met my moes gebeur dan het ek my onmiddellik na `n ander instansie gewend sonder enige bohaai. Daar is soveel ander mooi plekke en huweliks `venues` wat jou met ope arms sal verwelkom. Die dominee van my gemeente het op `n keer vir my gesê dat as ek wil hê hy eendag my begrafnisdiens moet waarneem dan moet ek sy prosedure volg dws. eers die teraardebestelling dan die diens en ‘gesellgheid’ daarna, terwyl ek dit volgens gebruik andersom wil hê. Vanselfsprekend gaan ek `n ander dominee kies wat my wense respekteer sonder om `n “issue” daarvan te maak en hom by die Sinode of die MRK aan te gee. Geen mens wil `n bohaai op sy/haar troue of begrafnis hê nie.

Marous ·

Die spul wat so voor die ambassade gil oor die Amerikaners sal die mense sekerlik met graagte wil trou..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.