Opgestel deur die Podlitiek-span
Op die oog af lyk Suid-Afrika, soos in die liedjie van die sepie Binnelanders, “heel gesond”. Die probleem is egter dat dit wat op die oppervlak sigbaar is, nie noodwendig altyd die waarheid en werklikheid weerspieël van wat eintlik aan die gang is nie. Suid-Afrika, so leer ons almal tans, het heelwat verskuilde probleme wat deur uitdagings soos dié wat tans heers, ontbloot word. Om hierdie verskuilde probleme te vind en bloot te lê, is die Podlitiek-span weer op hul pos.
Hierdie week begin hulle deur te kyk na die skokkende toename in sekere soorte misdaad, soos veral vandalisme en stropery van winkels en vragmotors, wat in die afgelope week posgevat het. Ondanks die toename in polisie- en weermaglede, kom dit nie voor asof die golf van hordemisdaad enigsins afneem nie. Podlitiek wonder of hierdie tipe misdade nie selfs nog meer gaan toeneem in die volgende weke soos wat mense meer angstig en honger raak nie.
ʼn Volgende storie is die merkwaardige nuusgebeurtenis dat die olieprys onder $0 geduik het. Wat beteken hierdie skynbaar onverklaarbare fenomeen, wat is die oorsprong daarvan, en mees belangrik, wat beteken dit vir die verbruiker? Die Podlitiek-span stel ondersoek in na hierdie vreemde, skynbaar eenmalige verskynsel, en skei feite van fiksie.
ʼn Laaste storie, wat met die eerste twee verband hou, is die vraag op almal se lippe: Waarheen nou? Die Podlitiek-span wonder of president Cyril Ramaphosa die pyp kan rook, en die land kan stuur in die rigting wat nou nodig is? Om die land vir ʼn verlengde periode “op te sluit”, sal sekerlik nie deug nie, en om al die bepalings op te hef, sal sekerlik die probleem net vererger en die impak van die inperking ongedaan maak. Die Podlitiek-span bespreek verskeie modelle wat tans voorgestel word vir die pad vorentoe, en watter model hulle glo die beste pad sal wees om te volg.
By Podlitiek lewer ons nie net die nuus nie, ons maak dit. Luister Podlitiek.
Die Podlitiek-span bestaan uit Hermann Pretorius (IRV), Ernst van Zyl (AfriForum), Paul Maritz (Solidariteit) en Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.).
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
1 Kommentaar
Kry die gratis oorskot olie vir Eskom se kragsentrales terwyl die steenkool uitgevoer word vir kosbare buitelandse valuta?