Opgestel deur die Podlitiek-span
Vir talle Suid-Afrikaners is Vryheidsdag eintlik maar net ʼn ekstra vakansiedag, ʼn soort braaidag in die herfs, of ʼn kans om vir die eerste keer sedert Januarie ordentlik huis skoon te maak. Dit kom voor asof korrupsie en staatskaping heelparty landsburgers met ʼn wrang smaak rakende die “wonderwerk van die Reënboognasie” laat. Die Podlitiek-span wonder in vandag se episode hardop oor vryheid, en dan veral vryheid van spraak en vryheid in Suid-Afrika.
Die kwessie van spraakvryheid was vandeesweek weer hoofnuus met die aankondiging dat Elon Musk die sosialemediaplatform Twitter gekoop het teen ʼn astronomiese $44 miljard (sowat R702 miljard). Die groter vraag, en die vraag wat mense aan die praat het, is wat presies Musk se plan met Twitter is. Gegewe die feit dat hy self aandui dat dit vir hom oor meer vryheid en minder sensuur gaan, ondersoek die Podlitiek-span die stand van spraakvryheid in Suid-Afrika en elders, en oorweeg die belangrikheid van ʼn sosialemediaplatform waar mense maar vir mekaar aanstoot mag gee, en waar slegte idees oorwin word eerder as om nooit gehoor te word nie.
Volgende word ʼn algemene vraag oor vryheid gevoer, en die vraag is natuurlik of Suid-Afrikaners al die vryhede wat hulle wel het, opeis. Die Podlitiek-span wonder of dit nie soms ʼn bietjie makliker is om te kla as om al die vryhede wat ʼn mens wel mag opeis, dan nou op te eis nie.
Luister gerus na hierdie week se Podlitiek om meer oor hierdie en ander stories te hore te kom!
- Die Podlitiek-span bestaan uit Paul Maritz, Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.), Ernst van Zyl (AfriForum) en Frederik van Dyk.