Podlitiek: ’n Nuwe Kabinet en minimumloon, die EFF sonder skroom

EFF-leiers het Dinsdag onder luide toejuiging klagte teen min. Pravin Gordhan by Brooklyn se polisiekantoor ingedien. Foto: ANA

Opgestel deur die Podlitiek-span

Hierdie week vier Podlitiek sy 25ste weeklikse episode met drie opwindende besprekingspunte, naamlik ons land se nuwe kabinet, die EFF se aanval op die media asook die aankondiging van ’n nuwe nasionale minimumloon.

Daniël Eloff val sommer met die deur in die huis met pres. Cyril Ramaphosa se onlangse kabinetskommeling op 22 November. Hoewel hy weliswaar nie soveel ervaring met hierdie tipe sake het as Jacob Zuma nie, is die span oortuig hierdie is een van die verveligstes wat hulle kan onthou – soveel so dat die markte dit nie eens nodig geag het om vreeslik daarop te reageer nie. Daniel du Plessis noem dat, hoewel vervelig, hierdie hele aksie ook onrusbarend was. Sekere ministers kon eerder maar agterweë gelaat geraak het. Die feit dat hulle egter steeds in die kabinet sit, impliseer dat Ramaphosa nog nie heeltemal beheer oor sy eie party het nie. Die samesmelting van die portefeuljes van kommunikasie en telekommunikasie, wat die kabinet van 35 na 34 verklein het, is ook maar net ’n druppel in ’n baie groot emmer – en een wat aanhoudend belastinggeld bly lek.

Paul gebruik die geleentheid om bietjie lig te werp op onlangse gebeure rakende die media – en veral hul betrekkinge met die EFF. Die span vind dit onverbasend, maar steeds teleurstellend, dat die media nou eers begin besef dat hulle voorkeur vir EFF-nuusstories dalk gevaarlik begin raak vir demokrasie in Suid-Afrika. Die EFF het lank die lewe vir joernaliste baie maklik gemaak deur ’n aanhoudende stroom nuusgeleenthede te produseer. Van lekker lees kom egter lekker huil – en nou het die EFF ook teen die media gedraai. Daniël Eloff noem dat dit heeltemal te verwagte was. Die EFF se totalitaristiese ingesteldheid is in elk geval onbestaanbaar met persvryheid. Die span wens ook vir Pauli van Wyk geluk met haar uitsonderlike joernalistiek in haar oopvlek van korrupsie waar die EFF (en sy leierskap) na bewering betrokke was.

Laastens sluit die span af met ’n bespreking van die nuwe Minimumloonwet, wat Ramaphosa op 26 November onderteken het. Daniel du Plessis is van mening dat, in ’n land waar werkloosheid rondom 27% draai, daar nie regverdiging kan wees vir enigiets wat dit nog moeiliker maak om werk te skep nie. Dit is, volgens hom, belangrik om te onthou dat werkers nie net onderling kompeteer nie, maar ook met daardie toerusting en toestelle wat gebruik kan word om hulle te vervang. In Suid-Afrika vind die meeste van die armstes van die armes dit reeds onmoontlik om ’n bestaan te maak en die minimumloon sal nie hierdie, mees kwesbare, mense kan help nie – allesbehalwe.

  • Is jy onseker oor ons land se toekoms? Voel jy dalk oningelig oor politieke kwessies wat aan die orde van die dag is? Dan is Podlitiek die ideale instrument om jou opinie mee te slyp! Sit gerus die gesprek in die kommentaarafdeling voort, en onthou om Podlitiek op Iono.fm, YouTube en iTunes te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Louwkie ·

Die Besighede moet begin luidkeel aankondig, dat hulle raak ontslae van werkers en meganiseer waar hulle kan, weens die stakings, minimum loon, BEE wetgewing.
Dat die mense kan besef dat die wetgewing en unies hou meer nadele as voordele in deesdae.

alwyn burger ·

Die media kan nie kla oor Julius Malema nie!. Dit is soos ñ ouer wat kla oor sy kind. Julius is n mediaskepping. As Jesus op Ellispark sou praat is daar twee streekskoerantmane met bokskameras.As Julius op Putsonderwater sou praat is daar 300 persmanne. Die pers moet nou pa staan. Dit teer soos ñ parasiet op sensasie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.