Podlitiek: Ngwenya, Bosasa en Zille onder die soeklig

Premier van die Wes-Kaap, Helen Zille (Foto: ANA)

Opgestel deur die Podlitiek-span

In ’n tyd van sosiale media, alternatiewe media, kunsmatige intelligensie en tegnologiese vooruitgang, is dit sekerlik gerusstellend om te weet dat een ding altyd dieselfde bly: Politieke speletjies. Hierdie week is die Podlitiek-span weer met die tong diep in die kies aan die ontleed en analiseer van die Suid-Afrikaanse politiese sfeer.

Daniel du Plessis lei die eerste onderwerp in: Die Bosasa onthullings. In die afgelope weke moes Suid-Afrikaners met bloeiende ore luister hoe toppolitici – ons voormalige president Jacob Zuma ingesluit – omgekoop is met kontantbedrae van tot R300 000 per maand. Die paneel bespreek vlugtig die feite, maar vra dan ook of Jan Publiek werklik optimisties moet wees oor die moontlikheid van enige optrede ná afloop van hierdie kommissie se verslag. Gaan al hierdie getuienis nie maar net onder die mat gevee word nie?

Paul Maritz draai die aandag dan na Helen Zille, premier van die Wes-Kaap, se onlangse opmerkings op sosiale media van ’n belastingopstand. Zille voer aan dat miljoene Suid-Afrikaners nie sal aanhou om miljarde rande te betaal aan so ’n korrupte spul nie. Die Podlitiek-span praat dan oor die moontlikheid, inhoud, en funksionering van so ’n belastingopstand of belastingboikot, en wys na verskeie gevalle in die Suid-Afrikaanse omgewing waar gemeenskappe in elk geval geen belasting betaal, of rekeninge aan staatsinstellings betaal nie.

Daniël Eloff plaas dan twee onlangse politieke skuiwe op die tafel: Gwen Ngwenya (voormalige beleidshoof van die DA) se bedanking uit haar posisie, asook Peter Marais, (voormalige premier van die Wes-Kaap) se kandidatuur as die Vryheidsfront Plus se kandidaat, juis vir die posisie van premier van die Wes-Kaap – ’n posisie wat hy voorheen beklee het, alhoewel dit onder ’n ander party se vlag was. Gaan Marais se verlede in sy guns tel, of gaan sy reputasie sy tier wees?

In hul internasionale segment meld die paneel met misnoeë dat minister Lindiwe Sisulu, minister van internasionale verhoudings, amptelik haar steun vir die ramspoedige Nicholas Maduro, president van Venezuela, uitgespreek het. Daar kan sekerlik baie gesê word van ’n land op grond van die geselskap wat hy kies.

Laastens kyk die Podlitiek-span na ’n paar silwerrandjies wat tog in hierdie week sigbaar geword het, en maak hulle die naam van hul politieke party amptelik bekend!

  • Voel jy onseker oor wat aan die gang is in die Suid-Afrikaanse politiek? Dan is Podlitiek die slypsteen wat jy nodig het om ’n skerp en spitsvondige politieke mening te ontwikkel. Sit gerus die gesprek in die kommentaarafdeling voort, en onthou om Podlitiek op Iono.fm, YouTube en iTunes te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

negatief ·

ek het geen hoop dat gierdie geregtelike ondersoek na staatskaping enige iets sal oplewer nie. dis maar net n kwessie van heuningsmeer en geld uit die staatskas. verder maak dit net die lojale landsburgers SIEK, SIEK en meer SIEK.

Dries du Toit ·

Ek kon myself nog nooit insien om saam met Zille te trek nie. Maar as sy n goeie plan kan uitwerk om nie meer hierdie korrupte regering van geld te voorsien nie verander die prentjie heeltemal

Neels ·

Ek dink die tyd het aangebreek dat alle rasse,tale,kleure moet saam staan. Ons laat ons lei deur 20% van mense wat wil he daar moet rassehaat en rassespanning wees. Oral waar ons saamwerk is ons n eenheid. Kom ons se ons het reg om te verskil. Maar ons vat Suid Afrika vir die goeie mense. Stem GOOD

Dries du Toit ·

O my genade Neels. Jy moet Good wees om daai oud PAC tannie te glo. Oppas vir te good to be true

Jerry ·

Mense, as tannie Zille haar heel laaste kaart speel en dit spreek van uiterste desperaatheid om die korrupte ANC monster te stop en tot ander insigte te probeer dwing, dan moet ons besef dat sy besef, dat die skrif is aan die muur!

jz ·

Zille het n punt ,as n mens die rowers van die staatskas wil stop sny die belasting af dan is daar niks om te roof nie.

Hendrik ·

Ek hoop Helen se plan werk want daar is geen beter manier om mense van n ivoortoring af te ruk as om hulle entitlementgeldjies te verminder nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.