Podlitiek: Noah van links geslaan, Eskom en die Soewereine Staat van die Kaap

Die landsvlag is gestryk en die “Soewereine Staat van Goeie Hoop” se vlag is vroeër in Juliemaand gehys. Foto: Verskaf.

Opgestel deur die Podlitiek-span

In hierdie spitsvondige episode gesels Podlitiek se twee gereelde aanbieders, Paul Maritz en Daniël Eloff en die gasaanbieder, Daniel du Plessis, oor Trevor Noah se Twitter-oproer, die nuutste gebeure oor Eskom en China se betrokkenheid by die sukkelende staatsorgaan en laastens oor die idee van ’n onafhanklike Kaap-buurland.

Soos dit al meer die gewoonte raak, het een van die afgelope week se grootste nuusgebeure op Twitter ontaard. Die Suid-Afrikaanse komediant, Trevor Noah, het ernstige kritiek ontvang oor ’n grappie wat hy in 2013 oor Australiese inboorlinge gemaak het. Alhoewel die Podlitiek span glo dat hierdie grappie geensins snaaks of aanvaarbaar is nie, bespreek die drie aanbieders die ironie van die kritiek wat Noah ontvang van liberale media in die VSA.

Verder bring Paul ons op hoogte van die nuutste gebeure by Eskom en bevraagteken die twee Daniels (Eloff en du Plessis) die betrokkenheid van China by Eskom. President Ramaphosa het groot beleggings vir Eskom verseker, maar teen watter prys en in ruil vir wat is hierdie ooreenkoms aangegaan? Die feit dat die Brics-beraad hierdie week plaasgevind het, plaas hierdie kwessie in die kollig.

Laastens bespreek die gasaanbieder, Daniel du Plessis, die idee van afstigting binne die Suid-Afrikaanse konteks. Hierdie vind natuurlik teen die agtergrond van Koning Khoebaha Calvin Cornelius III se aankondiging dat die Soewereine Staat van die Kaap van Goeie Hoop afgestig het van die Republiek van Suid-Afrika af. Afstigting onder die huidige Suid-Afrikaanse Grondwet blyk om nie moontlik te wees nie. Artikel 1 van die Grondwet verwys na “een, soewereine, demokratiese staat”. Artikel 235 van die Grondwet maak voorsiening vir selfbeskikking van gemeenskappe, maar slegs binne die bestaande grense van Suid- Afrika en net indien dit deur nasionale wetgewing voorsien word. Met ander woorde, tensy die Parlement ’n wet instel wat hierdie bepaal, kan dit eenvoudig nie deur ’n vlag en Facebook-video gebeur nie.

Die span sluit af deur te sê dat die saga oor oudpresident Zuma se regskostes fyn dopgehou moet word. Laastens waarsku Paul dat die uitspraak in die hooggeregshof rakende nagenoeg 400 000 wapens in besonder bestudeer moet word en dat hierdie saak bepalend is in die stryd vir geweerregte in die land.

Ons moedig jou aan om die gesprek in die kommentaarafdeling voort te sit en om Podlitiek op Iono.fm en iTunes te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dream on

Hierdie is nou die grootste joke wat ek nog ooit in my lewe van gehoor het of gesien het. Hierdie mense is heeltemal die kluts kwyt .. een groep is religious en die ander groep wil die wapen opneem, die een groep haat die ngunis en die ander groep love die Khoisans . wat ‘n grap . niemand het ‘n plan nie . hulle staan en wag vir die koning om ‘n plan te maak. Toe ek hoor mense moet solank gereed maak om erens INFORMELE huisies of containers te gaan opslaan het ek besef hierdie skil gaan nooit seil… Lees meer »

Riaan le Roux

Puik! As ek een ding kon vra, sou dit net wees vir meer (langer episodes)! Ek geniet elke episode opreg, selfs al stem ek nie met alles saam wat gese word nie ?

Barry H

Ek vind Trevor Noah se humor nie regtig snaaks nie, stem saam dat sy komedie nie genuanseerd is nie, Daniël!

Adoons

Ek weet darem nie of ons werklik kan sê dat bra Cornelius se mannewalles ons land nader in die rigting van federalisasie stoot nie. Inteendeel dit maak dat afstigting verspot lyk en asof die mense nie ernstig is oor selfbeskikking nie.

Coert

Dankie vir uitstekende analise. Ek hoop die kaap word onafhanklik, ek sal al my beleggings onmiddelik daarheen skuif.